Isaiah 56
1 Die Here sê: “Julle moet aanhou doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moet reg doen aan ander mense, want Ek sal gou kom om my mense te red. Almal sal dit sien.
2 Dit sal goed gaan met iemand wat die Sabbatdag nie ontwy nie, en nooit verkeerde dinge doen nie.
3 Daar is mense wat nie Israeliete is nie, en wat My kom dien. Hulle sê: ‘Die Here wil nie hê ons moet aan sy volk behoort nie.’ En daar is mans wat ontman is. Hulle sê: ‘Ek is soos 'n droë boom wat nie vrugte kan dra nie.’ Hulle moenie so dink nie,
4 want die Here sê: ‘Die mense wat ontman is, moet aanhou om my Sabbatdag te vier en om te doen wat Ek wil hê. Hulle moet aanhou lewe soos Ek gesê het toe Ek met die Israeliete 'n verbond gemaak het.
5 Dan sal Ek hulle name opskryf in my tempel sodat almal dit altyd sal onthou. Hulle name in die tempel sal vir hulle belangriker wees as seuns en dogters. Hulle name sal altyd daar wees.
6 [6-7] En Ek sal die mense wat nie Israeliete is nie en wat My kom dien, op my gewyde berg bring sodat hulle bly sal wees wanneer hulle in die tempel kom bid. Hulle moet lief wees vir my Naam, hulle moet my dienaars wees, hulle moenie die Sabbatdag ontwy nie en hulle moet aanhou lewe soos Ek vir hulle gesê het toe Ek met die Israeliete 'n verbond gemaak het. Ek sal daarvan hou dat hulle op my altaar offers bring, almal sal weet dat al die volke in my tempel kan kom bid.’ ”
7 ***
8 Dit is wat die Here gesê het, Hy wat Here is. Vyande het die Israeliete weggejaag uit hulle land, maar die Here sal die Israeliete bymekaarmaak en Hy sal nog meer mense saam met hulle bring.
9 “Al die wilde diere in die veld en in die bos, julle moet die leiers van my volk kom op-eet.
10 Die leiers wat die volk moet oppas, is soos honde wat niks sien nie en niks hoor nie, hulle wil net lê en slaap.
11 Hulle is soos honde wat altyd honger is en nooit genoeg kos kry om te eet nie. Of, hulle is soos skaapwagters wat nie weet hoe om hulle werk te doen nie. Elkeen doen wat hy wil en hy sorg net vir homself.
12 Hulle sê vir mekaar: ‘Kom ons drink nog wyn. Môre sal soos vandag wees, nee, dit sal nog beter wees.’ ”