Isaiah 55
1 Die Here sê: “Julle almal wat dors is, julle moet kom na die water. Julle wat nie geld het nie, julle moet kom koop en eet, julle moet wyn en melk kom koop, maar dit kos niks.
2 Hoekom betaal julle vir iets wat nie regtig kos is nie? Hoekom werk julle vir iets wat julle nie volmaak nie? Julle moet goed na my luister sodat julle iets kan eet wat goed is, sodat julle lekker kan eet van die beste kos.
3 Luister en kom na My toe, luister sodat julle kan lewe. Ja, Ek wil 'n verbond maak met julle, 'n verbond wat vir altyd sal wees. Ek wil aanhou lief wees vir julle soos Ek lief was vir Dawid.
4 Want kyk, Ek het vir Dawid gesê hy moet vir die volke wys wie Ek is. Ek het hom 'n koning gemaak wat oor die volke regeer het.
5 En kyk, julle sal 'n volk roep wat julle nie ken nie, 'n volk wat julle nie ken nie, sal na julle toe hardloop. Want Ek is julle God die Here, die Heilige God van Israel, en Ek gee weer eer vir julle.”
6 Julle moet vir die Here vra wat Hy wil hê, Hy wil dit vir julle sê. Julle moet tot Hom bid, Hy wil hoor wat julle sê.
7 Die mense wat verkeerd doen, die mense wat slegte planne het, moet ophou. Hulle moet hulle planne los, en hulle moet terugkom na die Here, na ons God, want die Here is genadig, Hy vergewe altyd weer.
8 “Ja, Ek dink nie soos julle dink nie, en Ek doen nie soos julle doen nie.
9 Ja, wat Ek dink en doen, is ver bo wat julle dink en doen, soos die hemel ver bo die aarde is.
10 Ja, die reën en die sneeu kom uit die hemel en dit gaan nie terug na die hemel nie. Dit maak die aarde nat, en daar groei plante wat saad gee sodat die man wat wil saai, saad het en sodat die man wat wil eet, brood het.
11 So sal my woorde wees wat uit my mond kom, dit sal doen wat Ek wil hê. My woorde sal doen wat Ek gesê het hulle moet doen, my woorde sal nie leeg na My toe terugkom nie.
12 Ja, julle sal bly wees wanneer julle uit Babel kom, julle sal vrede hê wanneer die Here julle terugbring. Die berge en die heuwels sal bly wees en juig, al die bome in die veld sal hande klap wanneer hulle sien julle kom.
13 Daar sal sipresbome en mirtebome groei waar voorheen doringbosse en brandnetels was, en almal sal altyd weet dat die Here dit gedoen het.”