Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 54

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here sê: “Jerusalem, jy is soos 'n vrou wat nie kinders kon kry nie, maar jy moet juig en baie bly wees, want jy wat alleen was, sal meer kinders as 'n getroude vrou.
2 Jy moet jou tent groter maak, jy moet die tentseile wyer maak, jy moet die toue langer maak, en jy moet jou tentpenne sterker maak.
3 Want jy sal groter word na al die kante toe, jou nageslag sal ander volke oorwin en hulle sal weer woon in die stede waar nou niemand is nie.
4 Jy moenie bang wees nie, jy moenie dink jy beteken niks nie. Jy moenie skaam wees nie, want niemand sal jou weer verneder nie. Jy sal die tyd vergeet toe jy 'n jongmeisie was en toe jy 'n weduwee was, toe ander mense jou gespot het.
5 Want die Een wat jou gemaak het, is jou Man, sy Naam is Here wat oor alles regeer. Jou Bevryder is die Heilige God van Israel, sy Naam is God van die hele aarde.”
6 Jerusalem, jou God sê: “Jy was soos 'n vrou, haar man wou haar nie meer nie. Toe Ek jou geroep het, was jy soos 'n vrou met wie 'n man getrou het toe hy nog jonk was, maar later het hy haar weggejaag. Jy was baie hartseer.
7 Ek het jou 'n kort tydjie gelos, maar nou neem Ek jou weer terug en Ek is weer baie lief vir jou.
8 Ek het kwaad geword en Ek wou jou 'n kort tydjie nie sien nie, maar Ek sal weer jammer wees vir jou en Ek sal altyd lief wees vir jou.” Dit die Here wat jou vrymaak.
9 “Dit is vir My soos die watervloed van Noag. Ek het belowe dat die water van Noag nie weer die aarde sal toemaak nie, en nou belowe Ek dat Ek nie sal aanhou om kwaad te wees vir jou nie. Ek belowe dat Ek nie sal aanhou raas met jou nie.
10 Ja, die berge en die heuwels sal verdwyn, maar my liefde vir jou sal nie verdwyn nie. Ek sal ook nie my verbond met jou breek nie, die verbond wat Ek met jou gemaak het toe Ek belowe het dat Ek vir jou vrede sal gee.” Dit die Here wat jammer is vir jou en wat jou terugneem.
11 “Jerusalem, jy is 'n stad wat jouself nie kon help nie. Die stormwinde het oor jou gewaai, niemand het jou gehelp nie. Maar kyk, Ek bou jou klippe vas op mekaar met harde klei, Ek bou jou fondamente van saffier.
12 Ek maak jou torings van robyne en jou poorte van smarag, Ek bou jou muur van edelstene.
13 Al die mense wat in jou woon, sal leerlinge van die Here wees, en hulle sal vrede hê.
14 Jou mense sal reg doen. Jy moenie bang wees nie, niemand sal jou weer verdruk nie, jy sal nie weer skrik nie.
15 Wanneer iemand jou aanval, dan sal dit nie Ek wees wat hom gestuur het nie. Iemand wat jou aanval, sal self val en verloor.
16 Dit is Ek wat die ambagsmanne gemaak het, die ambagsmanne wat 'n houtskoolvuur warm blaas en wat wapens maak. Dit is Ek wat die mense gemaak het wat verwoes en afbreek.
17 Maar die wapens wat hulle maak om jou aan te val, sal niks kan doen nie, en jy sal wys dat elkeen wat jou vals beskuldig, self skuldig is. Dit sal Ek doen vir die mense wat My dien, Ek sal reg doen aan hulle.” Dit die Here.