Isaiah 53ABA

1Hulle het gevra: “Wie het geglo wat ons gehoor het? Vir wie het die Here gewys Hy is sterk?

2Hierdie man was soos 'n plantjie wat begin groei het, soos 'n wortel wat in droë grond begin groei. Hy was soos 'n plantjie wat ons nie raaksien nie, 'n plantjie wat nie mooi is nie.

3Al die mense het gedink hierdie man is nie belangrik nie en hulle wou hom nie sien nie. Hy het swaargekry en hy was altyd siek. Die mense het hulle gesig weggedraai, hulle wou nie na hom kyk nie. Die mense het gedink hy is nie belangrik nie, en ons het gedink hy beteken niks.

4Maar hy was siek sodat ons gesond kan wees, hy het swaargekry sodat ons nie sal swaarkry nie. En ons het gedink dit is God wat hom straf en wat hom slaan en verneder.

5Ja, dit is óns wat opstandig was, maar hulle het hóm met 'n spies gesteek. Dit is óns wat verkeerd gedoen het, maar hulle het hóm stukkend geslaan. Hy het die straf gekry sodat dit goed kan gaan met óns, hy het seergekry sodat óns gesond kan wees.

6Ons almal het soos skape en bokke rondgeloop, elkeen het geloop waar hy wou loop. Ons almal het verkeerd gedoen, maar die Here het daardie man gestraf.

7Die mense het hom verdruk en seergemaak, maar hy het niks gesê nie. Hy was soos 'n skaap wanneer iemand hom wil slag of wanneer iemand sy wol afskeer, hy het stilgebly en niks gesê nie.

8Hy was 'n gevangene, hulle het gesê hy is skuldig. Was iemand bekommerd oor hoe dit met hom sal gaan? Nee, niemand nie. Hulle het hom afgesny van die mense wat lewe, hulle het hom laat swaarkry omdat sy volk opstandig was.

9Hulle het vir hom 'n graf gereedgemaak by skuldige mense, en toe hy sterf, het hulle hom begrawe by mense wat ander mense se goed gevat het en ryk geword het. Maar hy het niemand seergemaak nie en hy het niemand bedrieg nie.

10Die Here het besluit dat die dienaar moet seerkry en siek word. Die Here het gesê hy is 'n skuld-offer. Daarom sal hy lank lewe en 'n nageslag hê. Die Here sal sy dienaar gebruik om te doen wat die Here wil doen.”

11Die Here sê: “My dienaar het baie swaar gekry, maar hy sal lewe en tevrede wees dat hy My ken. My dienaar is nie skuldig nie, hy is regverdig, en hy sal belangrike mense regverdig maak, want hy sal die straf kry vir alles wat hulle verkeerd gedoen het.

12Daarom sal Ek vir hom 'n plek gee by die belangrike mense. Hy sal saam met die leiers besluit hoeveel goed elkeen moet kry ná die oorlog. Ek sal dit doen omdat hy tevrede was om te sterf toe almal gedink het dat hy een van die opstandige mense is. Hy het die straf gekry vir die sonde van die belangrike mense, en hy het gebid vir die mense wat opstandig was.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 53.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.