Bible

Elevate

Your Sunday Morning Worship Service

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 51

:
Afrikaans - ABA
1 Die Here sê: “Julle wat wil reg doen, julle moet luister na My. Julle wat My wil dien, julle moet onthou van waar julle kom.
2 Julle moet dink aan julle voorvader Abraham en aan Sara, julle is uit haar gebore. Abraham was alleen toe Ek hom geroep het, en Ek het hom geseën, Ek het vir hom 'n groot nageslag gegee.
3 Regtig, Ek sal dit weer goed laat gaan met Sion. Die stad is nou net hope klippe, maar Ek sal dit weer daar goed laat gaan. Dit lyk nou soos 'n woestyn, maar Ek sal dit laat word soos die tuin in Eden. Dit lyk nou soos 'n droë stuk grond, maar dit sal word soos die tuin van die Here. Die mense in die stad sal vrolik en bly wees. Hulle sal sing en hulle sal vir My dankie sê.”
4 “My volk, julle moet luister na My. Al die mense wat aan My behoort, julle moet hoor wat Ek sê. Ek wil vir julle leer wat julle moet doen en Ek wil al die volke moet weet dat Ek reg besluit. Dit moet vir hulle die lig wees.
5 Dit is nou die tyd wanneer Ek wil doen wat reg is, Ek wil julle nou red. Ek regeer oor al die volke. Die mense in die lande langs die see wag ook dat Ek oor hulle moet regeer.
6 Kyk na die lug daarbo en na die aarde hier onder. Die lug sal verdwyn soos rook, die aarde sal word soos ou klere, en die mense op die aarde sal sterf soos muggies. Maar Ek sal julle red, julle sal altyd Myne wees. Ek sal nooit ophou om reg te doen nie.
7 “My volk, julle weet wat reg is, julle weet wat Ek wil hê, julle moet luister na My. Julle moenie bang wees wanneer mense julle spot nie, julle moenie skrik wanneer mense sleg praat van julle nie.
8 Dit sal met hulle gaan soos met ou klere en wol wanneer motte dit vreet. Maar Ek sal altyd reg doen, en Ek sal mense red, die mense van elke geslag.”
9 Here, U moet wakker word, U moet wakker word. U moet weer sterk wees. U moet wakker word soos in die tyd toe alles begin het, lank, lank gelede. Dit is U wat vir Rahab stukkend gekap het, dit is U wat vir Tannin doodgesteek het.
10 Dit is U wat die see droog gemaak het, die water van die groot see. Dit is U wat deur die diep see 'n pad gemaak het sodat die Israeliete daar kon deurgaan toe U hulle vrygemaak het.
11 So sal die Israeliete nou terugkom wanneer U hulle vrymaak. Hulle sal juig en aanhou om bly te wees wanneer hulle in Sion kom. Hulle sal vrolik wees en lag, hulle sal nie meer bekommerd wees en nie meer sug nie.
12 Die Here sê: “Dit is Ek wat dit weer goed sal laat gaan met julle. Hoekom is julle bang vir mense wat kan sterf? Hoekom is julle bang vir mense wat soos gras is en gou doodgaan?
13 Julle het My vergeet, Ek is die Here wat julle gemaak het. Ek het die hemeldak gemaak en Ek het die aarde op sy plek gesit. Nou hou julle aan om te bewe vir die mense wat kwaad is vir julle, die mense wat vir julle verdruk en wat vir julle wil doodmaak. Maar waar is daardie mense nou, die mense wat kwaad was en wat vir julle verdruk het? Hulle verdruk julle nie meer nie.
14 Wanneer iemand 'n gevangene is, dan is hy haastig om vry te word. Hy wil nie sterf en afgaan na die doderyk nie, hy wil nie altyd honger wees nie.
15 Ek is julle God die Here wat die water in die see roer sodat die branders wild word. My Naam is die Here wat oor alles regeer.
16 Ek het my woorde in jou mond gesit en Ek het jou toegemaak in die skaduwee van my hand. Ek het die hemeldak gemaak en Ek het die aarde op sy plek gesit. Ek het vir die mense van Sion gesê: Julle is my volk.”
17 Jerusalem, jy moet wakker word, jy moet wakker word en opstaan. Die Here was kwaad vir jou. Hy het jou laat drink uit die beker, die beker van swaarkry wat jou dronk gemaak het. Jy moes die beker leegdrink.
18 Die Here sê: “Jerusalem, jy was soos 'n vrou wat baie kinders gekry het, maar nie een kind het later haar hand geneem en haar gelei nie.
19 Twee dinge het met jou gebeur, en niemand was jammer vir jou nie. Die vyande het jou seergemaak en stukkend geslaan. Die vyande het jou mense laat honger word en het hulle doodgemaak. Wat moet Ek doen sodat dit weer goed kan gaan met jou?
20 Jou seuns het flou geval. Hulle het gelê waar die strate teen die stad se mure kom, soos wildsbokke wat in 'n vangnet gevang is. Dit het gebeur omdat die Here kwaad was, omdat jou God jou wou laat swaarkry.
21 Jy kan jouself nie help nie, daarom moet jy luister. Jy is dronk, maar nie van wyn nie.
22 Jou Here, jou God die Here, praat. Hy sal sy volk help. Hy sê: Kyk, Ek neem die beker uit jou hand, die beker wat jou dronk gemaak het omdat Ek kwaad was vir jou. Jy moenie dit drink nie, jy mag dit los.
23 Maar Ek gee die beker vir die mense wat jou laat swaarkry het, die mense wat vir jou gesê het: ‘Gaan lê, ons wil oor jou loop.’ Jy moes word soos die grond, soos die strate waar die mense loop.”