Isaiah 50
1 Die Here sê: “Julle dink Ek het julle weggejaag soos wanneer 'n man skei van sy vrou. Ek het julle nie weggejaag nie. Julle dink Ek het julle verkoop, soos wanneer 'n man geld skuld en sy kinders moet verkoop. Ek het julle nie verkoop nie. Julle het julleself verkoop toe julle baie sondes gedoen het, julle was opstandig teen My, julle het self weggeloop.
2 Ek het na julle toe gekom om julle te help. Hoekom was daar niemand nie? Ek het julle geroep. Hoekom het niemand geantwoord nie? Dink julle Ek kan julle nie vrymaak nie? Dink julle Ek is nie sterk genoeg om julle te red nie? Julle moet dit weet: Wanneer Ek kwaai praat, dan word die see droog, en die riviere word 'n woestyn. En dan het die visse nie water nie, hulle vrek en stink.
3 Dit is Ek wat die lug donker laat word en dan lyk dit of die lug rouklere dra.”
4 Die dienaar van die Here sê: “Die Here het vir my geleer om goed te praat. Ek weet wat om te sê sodat mense wat moeg is, weer sterk kan voel. Die Here laat my elke oggend wakker word en Hy maak my ore oop sodat ek goed kan luister.
5 Die Here het vir my geleer om te luister, en ek was gehoorsaam aan Hom, ek was nie opstandig nie.
6 Die mense het my op my rug geslaan en hulle het my baard uitgetrek, maar ek het stil gestaan. Hulle het probeer om my te verneder en hulle het in my gesig gespoeg, maar ek het nie my gesig weggedraai nie.
7 Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie.
8 Die Here sal wys dat ek reg is en dat Hy naby my is. Wie wil my hof toe vat? Kom ons gaan saam daarnatoe. Wie wil my beskuldig? Hy moet kom en dit doen.
9 Julle moet dit weet, die Here help my. Wie is dit wat wil sê ek is skuldig? Dit sal sleg gaan met al my vyande. Hulle sal word soos klere wanneer motte dit vreet.
10 “Daar is ook mense wat die Here dien en wat luister na my, sy dienaar. Dit gaan sleg met my, dit is donker rondom my, maar daardie mense moet glo in die Here, hulle moet weet dat Hy sal help.
11 Maar julle wat vure aansteek om my te brand, julle wat my skiet met brandpyle, julle sal self brand in die vuur wat julle aansteek. Die brandpyle sal in julle steek. Die Here sal dit doen. Julle sal op die grond lê en rol, want julle sal baie pyn hê.”