Isaiah 49
1 Mense wat ver van hier langs die see woon, julle moet luister na wat ek sê: Die Here het my geroep voordat ek gebore is, ek was nog in my ma se liggaam toe Hy my naam genoem het.
2 Hy het vir my geleer om goed te praat, my woorde is soos 'n skerp swaard, soos 'n pyl. Maar die Here het gesê ek moet eers stilbly, Hy het my weggesteek soos 'n swaard of 'n pyl.
3 Hy het vir my gesê: “Jy is my dienaar, jy is Israel. Wanneer die mense na jou kyk, dan sal hulle My eer.”
4 Ek het gedink: Ek is moeg, ek het nie meer krag nie. Ek het baie hard gewerk, maar dit het niks gehelp nie. Maar die Here weet wat ek gedoen het, my God sal my betaal.
5 Voordat ek gebore is, het Hy gesê ek moet sy dienaar wees en ek moet die nageslag van Jakob na Hom toe terugbring, die Israeliete wat nou ver van mekaar woon. Die Here het my belangrik gemaak, en dit is my God wat my sterk maak. Hy het nou weer met my gepraat.
6 Hy het gesê: “Jy is my dienaar, jy moet die Israeliete terugbring, die mense wat oorgebly het van die stamme van Jakob. Maar dit is nie genoeg nie, jy moet nog meer doen, jy moet die lig vir die ander volke wees, Ek wil al die mense op die aarde red.”
7 Die Here praat, die Bevryder van Israel, die Heilige God van Israel. Hy praat met die Israeliete wat dink hulle beteken niks, die ander volke hou niks van hulle nie, en hulle is nou die slawe van die mense wat oor hulle regeer. Die Here sê: “Die konings van die ander lande sal na julle kyk en hulle sal opstaan en buig, want hulle sal weet dat Ek, die Here, doen wat Ek sê. Ek is die Heilige God van Israel en Ek het julle gekies om aan My te behoort.”
8 Die Here het vir my gesê: “Toe Ek besluit het om my volk te red, het Ek geluister na jou gebed en Ek het jou gehelp. Ek beskerm jou en jy sal my verbond wees met my volk. Jy moet hulle roep om terug te kom na die land en om te kom woon op die plekke waar nou niemand is nie.
9 Jy moet die gevangenes in donker plekke roep, jy moet vir hulle sê hulle moet uitkom. Hulle sal soos skape loop en wei. Daar sal gras wees op die paaie en op die kaal plekke.
10 Hulle sal nie honger of dors wees nie, en die son sal hulle nie brand nie. Ek is jammer vir hulle, Ek sal voor hulle loop, Ek sal hulle versigtig lei na plekke waar waterstrome is.
11 Ek sal al my berge gelyk maak sodat daar 'n hoë grootpad sal wees.
12 Julle moet kyk, my volk sal van ver kom, party sal kom uit die noorde en party uit die weste, en party uit die land Sinim.”
13 Hemel, aarde, berge, julle moet juig en vrolik wees, want die Here laat dit goed gaan met sy volk, Hy help sy mense wat hulleself nie kan help nie.
14 Sion, jy het gesê: “Die Here het my verlaat, my Here het my vergeet.”
15 Maar die Here vra: “Dink julle 'n vrou sal haar baba vergeet? Sal sy nie jammer wees vir haar kind nie? Nee, sy sal dit nie doen nie. Maar as sy miskien haar kind sal vergeet, Ek sal jou nie vergeet nie.
16 Sion, jy moet weet, jy is mý stad. Ek het my Naam op jou geskryf, Ek dink altyd aan jou mure.
17 Jou mense sal vinnig terugkom, en die mense wat jou verwoes en stukkend geslaan het, sal weggaan.
18 Kyk rondom jou, jou mense kom bymekaar en hulle kom na jou toe.” Die Here sê: “Ek belowe: Jou mense sal vir jou so mooi wees soos die dinge waarmee 'n bruid haarself mooi maak.
19 Jy is nou net hope klippe, daar woon nou nie mense in jou nie, en jou land is verwoes. Maar daar sal nie genoeg plek in jou wees vir al jou mense nie. En die mense wat jou verwoes het, sal ver weg wees.
20 Jou mense wat weg was, sal nou vir jou sê: ‘Hier is nie genoeg plek vir ons almal nie, jy moet vir ons plek maak, ons wil hier woon.’
21 En jy sal dink: Van waar kom al hierdie mense? Ek was soos 'n vrou wat nie kinders kan kry nie, ek was alleen, niemand het van my gehou nie, ek was so alleen soos 'n weduwee wat haar kinders verloor het. En van waar kom al my mense nou?”
22 Die Here sê: “Nou tel Ek my hand op na die volke toe en Ek waai my vlag, en hulle sal jou seuns en jou dogters na jou toe dra.
23 Konings en koninginne sal jou kinders vir jou oppas, hulle sal laag buig voor jou en hulle sal die stof van jou voete aflek. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. Almal wat glo dat Ek hulle sal help, sal nie teleurgesteld wees nie.”
24 Wanneer 'n soldaat oorlog gemaak het en dinge gevat het van sy vyande, dan sal niemand daardie dinge wegvat van hom nie. Wanneer iemand gevangenes goed oppas, dan sal die gevangenes nie vry kan word nie.
25 Ja, die Here sê: “Dit sal miskien gebeur dat iemand die gevangenes kan wegvat van 'n soldaat, of dat 'n soldaat die dinge kan verloor wat hy gevat het. Dit sal nie met jóú gebeur nie. Ek sal oorlog maak teen die mense wat oorlog wil maak teen jou, en Ek sal jou kinders red.
26 Ek sal die mense straf wat jou verdruk, hulle sal hulle eie liggame se vleis moet eet. Hulle sal dronk word van hulle eie bloed, soos mense dronk word van nuwe wyn. Hulle sal weet Ek is die Here wat jou red, Ek is jou Bevryder, Ek is die Sterk God van Jakob.”