Isaiah 46
1 “Bel en Nebo, die gode van die mense van Babel, het geval, hulle is dood. Ander mense sit die gode op diere, en die diere dra swaar.
2 Altwee gode het geval, hulle kan self niks dra nie, en die mense vat hulle weg na 'n ander land.
3 “ Nageslag van Jakob, Israeliete wat nog lewe, luister na wat Ek sê. Ek het julle gedra vandat julle gebore is.
4 Ook wanneer julle oud en grys is, dan sal Ek julle nog dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle dra, ja, Ek sal julle dra en Ek sal julle red.
5 “Wat dink julle, wie is soos Ek en wie kan doen wat Ek doen? Wat dink julle, wie is soos Ek?
6 Daar is mense wat geld uit hulle sak haal en silwer weeg op 'n weegskaal. Hulle betaal 'n ambagsman om vir hulle 'n god te maak. Dan buig die mense voor die god en hulle aanbid hom.
7 Hulle tel die god op en hulle dra hom en sit hom neer. Die god staan daar en hy kan nie beweeg nie. Wanneer iemand vir hom vra om te help, dan antwoord die god hom nie en red hom nie.
8 “Israeliete, julle wat opstandig is teen die Here, julle moet daaraan dink en julle moet dit goed onthou.
9 Julle moet dink aan die dinge wat lank gelede gebeur het. Ja, Ek is God, daar is nie 'n ander God nie. Ek is God, niks is soos Ek nie.
10 Dit is Ek wat lank gelede gesê het wat sal gebeur. Ek het dit gesê lank voordat dit gebeur het. Dit is Ek wat sê Ek het besluit en dit sal gebeur, Ek sal doen wat Ek wil doen.
11 Dit is Ek wat uit die ooste 'n man geroep het wat van ver kom soos 'n aasvoël. Ja, as Ek gesê het iets sal gebeur, dan gebeur dit. Ek doen wat Ek besluit het.
12 “Israeliete, julle is hardkoppig, julle doen nie wat reg is nie, maar julle moet luister na My.
13 Ek sal doen wat reg is, Ek sal dit goed laat gaan met julle, en dit sal gou gebeur. Ek sal dit goed laat gaan met Sion, Ek sal weer trots wees op die Israeliete.”