Isaiah 18
1 Dit sal sleg gaan met die land waar daar so baie insekte is, daar by die riviere in die land Kus.
2 Die mense van Kus het mense na Jerusalem gestuur, hulle het oor die water gekom in papirus-bote. Maar hierdie mense wat so vinnig gekom het, moet teruggaan na hulle eie volk toe, na die lang mense met die blink velle, die mense vir wie almal bang is, die mense wat sterk is en wat maklik ander mense aanval. Baie riviere vloei deur daardie mense se land.
3 Julle almal wat in die wêreld woon, julle wat op die aarde woon, julle sal sien wanneer iemand op die berge 'n vlag in die lug hou, julle sal hoor wanneer iemand die ramshoring blaas.
4 Want die Here het vir my gesê: “Ek sal stil uit my woonplek na alles kyk, stil soos die warm son in die middag, soos 'n miswolk in die somer.
5 Maar voordat die mense begin koring afsny, het die wingerdstokke opgehou blom en die groen druiwe begin ryp word. Dan sny die boer die nuwe jong takkies af met 'n snoeimes, hy knip die takkies af wat later gegroei het en hy gooi dit weg.
6 Hy los die takkies vir die wilde voëls van die berge en vir die wilde diere. In die somer sit die wilde voëls daar en in die winter lê die wilde diere daar.
7 In daardie tyd sal die lang mense met die blink velle weer kom, die mense vir wie almal bang is, die mense wat sterk is en wat maklik ander mense aanval. Baie riviere vloei deur daardie mense se land. Hulle sal presente bring vir die Here wat oor alles regeer, hulle sal dit bring na Sionsberg, die plek van die Here wat oor alles regeer.”