Isaiah 17
1 Die Here was kwaad vir die mense van die stad Damaskus. Hy het gesê Damaskus sal verdwyn, dit sal nie meer 'n stad wees nie, dit sal net 'n hoop klippe wees.
2 Die mense sal weggaan uit die stede by Aroër. Skape en bokke sal in die stede lê en rus, en niemand sal hulle skrikmaak nie.
3 Daar sal nie stede met sterk mure in Efraim wees, soos voorheen nie, en Damaskus sal nie meer 'n koning hê nie. Dit sal met die mense wat nog lewe in Damaskus, gaan soos met die mense van Israel. Dit sê die Here wat oor alles regeer.
4 Daardie dag sal die mense van Israel nie meer sterk wees nie, hulle sal swak en arm wees.
5 Dit sal wees soos wanneer iemand in Spook-laagte die koring-are bymekaarvat en afsny en dan al die koring-are bymekaarmaak.
6 Maar daar sal 'n paar van die mense van Israel oorbly. Dit sal wees soos wanneer 'n boer die olywe van 'n olyfboom afgeslaan het, en net 'n paar olywe bly oor aan die boonste takkies. Dit sê die Here, die God van Israel.
7 Daardie dag sal die mense kyk na die God wat hulle gemaak het, hulle sal vir die Heilige God van Israel vra om hulle te help.
8 Hulle sal nie glo dat die altare van die afgode hulle kan help nie, of die gewyde pale of die wierook-altare nie. Dit is altare wat hulle self gemaak het.
9 Daardie dag sal die stede wat sterk mure het, leeg wees, so leeg soos die bos toe die ander volke vir die Israeliete gevlug het.
10 Ja, Israeliete, julle het weggegaan van die God wat julle gered het, julle het die Rots vergeet by wie julle veilig was. Julle maak mooi tuine en julle plant daar vreemde plante.
11 Maar as die plante groot word en blomme kry dieselfde dag wanneer julle hulle plant, dan sal dit ook niks help nie. Wanneer julle siek en swak word, dan sal die plante julle nie gesond maak nie.
12 Dit sal sleg gaan met die baie volke wat nou baie raas. Hulle raas soos die see, hulle raas hard soos baie water.
13 Hulle raas soos die groot branders, maar wanneer die Here kwaai met hulle praat, dan vlug hulle ver weg. Hulle word soos kaf of soos 'n bol gras wat wegwaai in die sterk wind.
14 In die aand is almal nog bang vir die volke, maar voordat dit oggend is, is hulle weg. Dit is wat sal gebeur met die mense wat nou ons goed vat.