1Moabiete, julle moet vir die koning van die land Juda 'n skaap-ram stuur, julle moet dit uit Sela in die woestyn na Sionsberg stuur.
2Die vroue van Moab sal by die driwwe deur die Arnon-rivier kom soos voëltjies wat probeer vlieg wanneer die groot voëls hulle uit die nes geskop het.
3Hulle sal vir die mense van Juda vra: “Sê vir ons wat ons moet doen, maak 'n plan, beskerm ons. Julle moet vir ons wees soos 'n donker skaduwee wanneer dit warm is. Julle moet die mense wegsteek wat na julle toe vlug, julle moenie sê waar hulle is nie.
4Mense het gevlug uit Moab, julle moet hulle by julle laat woon, julle moet hulle by julle laat wegkruip om hulle te beskerm teen die mense wat hulle wil doodmaak.” Mense van Juda, die mense wat vir julle verdruk het, sal verdwyn. Hulle sal nie aanhou om julle te laat swaarkry en om julle land te vertrap nie.
5Die Here wat lief is vir julle, sal dan iemand koning maak van die nageslag van koning Dawid. Dit sal iemand wees wat koning mag wees, iemand wat regverdig regeer en wat weet hoe om reg te doen.
6Ons het gehoor dat die Moabiete hoogmoedig en trots is. Hulle dink hulle is wonderlik, maar hulle het niks om oor te spog nie.
7Daarom huil die een Moabiet oor die ander een, hulle almal huil, hulle is moedeloos, hulle huil oor die rosyntjies van die stad Kir-Geres,
8want die wingerde by die stede Gesbon en Sibma het verdroog. Mense wat regeer oor volke, het dronk geword van die rooi wyn. Die wingerde se ranke het gegroei tot by die stad Jaser, tot in die woestyn. Die ranke het verder en verder gegroei tot verby die see.
9Daarom huil ek nou saam met die mense van Jaser oor die wingerd van die stad Sibma, ek huil baie trane saam met die mense van Gesbon en Elale, want daar is nie vrugte en koring waaroor hulle kan sing nie.
10Daar is niks vrugte aan die vrugtebome waaroor hulle bly kan wees nie, daar is niks in die wingerd waaroor die mense kan sing nie. Niemand trap druiwe in die parskuipe nie. Die Here sê: “Die mense sal nie meer bly wees oor die vrugte wat hulle gepluk het en oor die koring wat hulle afgesny het nie. Ek het dit gestop.
11Ek is baie hartseer oor Moab en Kir-Geres, Ek huil soos 'n lier.
12Die Moabiete gaan na die offer-plekke en tempels om te bid en om baie offers te bring, maar dit sal nie help nie.”
13Dit is wat die Here voorheen oor Moab gesê het.
14En nou sê die Here: “Hulle het drie jaar lank swaargekry soos 'n dagloner, nou sal niemand meer dink dat die Moabiete belangrik is nie. Min van hulle mense sal nog lewe en hulle sal niks beteken nie.”