Hosea 13
1 Die Here het gesê: “Lank gelede was almal bang vir die mense van Efraim. Al die Israeliete het gedink die mense van Efraim is die belangrikste. Maar die mense van Efraim het sonde gedoen, hulle het vir Baäl gedien, en daarom het hulle gesterf.
2 Maar nou doen hulle nog meer sonde: Hulle maak beelde. Hulle vat silwer en maak daarvan beelde van afgode soos hulle dink die beelde moet lyk. Ambagsmanne maak die beelde wat soos 'n bul-kalf lyk, en hulle sê die mense wat wil offer, moet die beelde soen.
3 Daarom sal die mense van Efraim verdwyn soos 'n wolk in die oggend, soos dou wat vroeg weggaan. Hulle sal verdwyn soos kaf wat wegwaai van die dorsvloer, soos rook wat kom deur 'n gat in 'n huis se muur.
4 “Toe hulle uit Egipte gekom het, was Ek hulle God die Here. Net Ek was naby hulle, daar was nie 'n ander god wat hulle kon red nie.
5 Ek was saam met hulle in die woestyn, in die droë land.
6 Maar toe Ek vir hulle kos gegee het, en hulle genoeg geëet het, toe het hulle hoogmoedig geword en hulle het vergeet dat Ek hulle God is.
7 “Ek het toe besluit Ek wil die mense van Efraim doodmaak. Ek het geword soos 'n leeu, soos 'n luiperd wat langs die pad vir hulle lê en wag.
8 Ek was so kwaad soos 'n beer-wyfie wanneer iemand haar kleintjies wegvat. Soos 'n leeu wou Ek hulle bors oopskeur en hulle opvreet. Soos 'n roofdier wou Ek hulle stukkend skeur.
9 “Ek wou hulle doodmaak, want hulle was teen My, hulle was teen die God wat vir hulle gehelp het.
10 Hulle koning is nou weg, hy kon hulle nie help nie, nie in een van hulle stede nie. Hulle leiers is ook weg. Die Israeliete het gesê: ‘Gee vir ons 'n koning en amptenare.’
11 Ek was kwaad vir hulle, maar Ek het vir hulle 'n koning gegee, en Ek het die koning weggevat toe Ek baie kwaad was.”
12 Die Here weet alles wat die mense van Efraim gedoen het, Hy onthou al hulle sondes.
13 Hulle was soos 'n baba wat gebore moes word maar wat te dom was om te weet hoe hy uit sy ma se liggaam kan kom.
14 Die Here vra: “Moet Ek nou betaal sodat hulle nie in die doderyk kom nie? Moet Ek betaal sodat hulle nie sterf nie? Nee, die dood moet hulle vat soos dorings 'n mens vashou, soos wanneer bye mense doodsteek met hulle angels. Ek is nie meer jammer vir hulle nie.”
15 Efraim is soos 'n groen plant wat mooi groei tussen die riete, maar die oostewind sal kom. Die Here sal die wind stuur uit die woestyn, en daar sal niks water oorbly nie, die fonteine sal leeg word. Die vyande sal kom en hulle sal die mooi goed vat, hulle sal alles vat wat die mense bymekaargemaak het.