1Moses, die man van God, het die Israeliete geseën voordat hy gesterf het. Hy het gesê:
2“Die Here het van Sinai-berg gekom, Hy het verskyn op die Seïr-berge, Hy het sy lig laat skyn van Paran-berg af. Hy het gekom van sy gewyde woonplek waar tienduisende engele woon.
3Waarlik, U is lief vir volke, almal wat gewy is aan U, behoort aan U. U leer vir hulle, hulle luister na wat U sê.
4Hulle luister na die wette wat Moses vir ons gegee het, die wette wat behoort aan die volksvergadering van Jakob.
5Die Here het die Koning in Jesurun geword toe die hoofde van die volk bymekaargekom het, toe die leiers van die stamme saam daar was.”
6Moses het gesê: “Ek bid dat die mense van Ruben sal aanhou lewe en dat hulle nie almal sal sterf nie, want hulle is min mense.”
7En dit het Moses oor Juda gesê: “Here, U moet doen wat Juda vra, U moet hom terugbring na sy mense toe, U moet hom sterk maak en hom help teen sy vyande.”
8Dit het Moses oor Levi gesê: “Die mense wat in U glo, dra die urim en die tummim, U het hulle by Massa getoets, U het hulle by die water van Meriba beskuldig.
9Hulle het hulle ouers en hulle broers en hulle kinders gelos om te doen wat U sê en om gehoorsaam te wees aan u verbond.
10Hulle leer vir die Israeliete wat U besluit het en wat U wil hê, hulle bring vir U wierook-offers en brand-offers op u altaar.
11Here, U moet vir die Leviete baie krag gee en U moet dit goed laat gaan met alles wat hulle doen, U moet hulle vyande swak laat word, U moet die mense wat vir hulle haat, so hard slaan dat hulle nie kan opstaan nie.”
12Dit het Moses oor Benjamin gesê: “Die Here is lief vir Benjamin, hy sal veilig woon, Die Here beskerm hom elke dag, en hy woon tussen die berge.”
13Dit het Moses oor Josef gesê: “Die Here sal die land van Josef seën. Sy mense sal die beste kry van alles, die beste van die reën en die dou en die diep water daar onder.
14Hulle sal die beste kry van alles wat groei, alles onder die son, alles wat die mense elke maand afsny of pluk en bymekaarmaak,
15die beste van alles wat groei op die berge en op die heuwels wat baie lank daar is.
16Hulle sal die beste kry van alles wat uit die aarde kom, alles wat daar is omdat die Here goed is vir Josef, die Here wat in 'n doringbos verskyn het. Ek bid dat Josef dit alles sal kry, Josef wat oor sy broers regeer het.
17Die Josef-stam is so sterk soos 'n jong bul, soos 'n oer-os met sy horings. Hy sal ander volke stoot en jaag tot ver op die aarde. Efraim het tienduisende soldate, en Manasse het duisende soldate.”
18Dit het Moses oor Sebulon gesê: “Sebulon, jy moet bly wees wanneer jy op die pad loop, en jy, Issaskar, jy moet bly wees wanneer jy in jou tente is.
19Hulle roep die ander volke na die berg, en daar bring hulle die offers wat hulle moet bring. Hulle word ryk, want hulle kry baie dinge uit die see, hulle kry kosbare dinge onder die sand.”
20Dit het Moses oor Gad gesê: “Ek prys die Here, Hy het vir Gad 'n groot woonplek gegee, Gad is soos 'n leeu, hy byt en skeur sterk arms, hy slaan koppe stukkend.
21Gad het die beste land vir homself gekies, hy het 'n koning se land gekry, Gad het die leiers van die volk gebring en hy het gedoen wat die Here wil hê, hy het gedoen wat die Here besluit het.”
22Dit het Moses oor Dan gesê: “Dan is soos 'n jong leeu wat uit die land Basan spring.”
23Dit het Moses oor Naftali gesê: “Die Here is goed vir Naftali, die Here seën hom, Naftali het die meer van Kinneret vir homself gevat, en ook die land suid van die see.”
24Dit het Moses oor Aser gesê: “Die Here sal vir Aser meer seën as die ander seuns, ek bid dat die ander broers lief sal wees vir hom, en dat hy so ryk sal wees dat hy sy voete in olyf-olie sal was.
25Ek bid dat sy stede sterk poorte sal hê met sluitbalke van yster en brons. Ek bid dat dit altyd goed sal gaan met Aser.
26“ Jesurun, jou God is baie groot, daar is niemand soos Hy nie! Hy ry deur die lug om jou te kom help, Hy, die Koning, ry oor die wolke.
27Hy is altyd God in die hemel, Hy dra sy volk altyd in sy arms en beskerm hulle. Hy het die vyande voor julle weggejaag en Hy het vir julle gesê julle moet die vyande doodmaak.
28Israel woon veilig, die nageslag van Jakob woon alleen in 'n land waar daar koring en wyn is, die dou drup ook daar uit die lug.
29Israel, jy is 'n gelukkige volk, watter ander volk is soos jy? Niemand. Die Here het jou gered, Hy beskerm jou soos 'n skild. Hy is soos 'n swaard wat jou laat wen, jou vyande sal kruip voor jou, en jy sal op hulle trap.”