Deuteronomy 32ABA

1Moses het gesê: “Hemel, jy moet luister, ek wil praat, die aarde moet hoor wat ek sê.

2Ek bid dat die dinge wat ek vir die mense leer, sal wees soos reën wat drup, ek bid dat die dinge wat ek sê, sal wees soos sagte reën op gras, soos reën op groen plante.

3Want ek wil skree en die Naam van die Here sê, ek wil sê dat die Here groot en goed is.

4Hy is die Rots, sy werk is heeltemal reg, Hy doen altyd reg. Hy is 'n God wat altyd dieselfde bly, Hy doen niks verkeerd nie, Hy is regverdig en eerlik.

5Maar sy volk het ontrou geword aan Hom, hulle is nie meer sy kinders nie, hulle is onrein en vals, hulle kan net verkeerd doen, nie reg nie.

6Julle is dwase mense, julle het nie wysheid nie, is dit wat julle doen aan die Here? Hy is julle Vader, Hy het julle gemaak. Hy self het julle gemaak en Hy het vir julle die lewe gegee.

7Julle moet onthou hoe dit lank gelede was, julle moet dink aan die jare wat lank verby is. Julle moet vir julle ouers vra, sodat hulle vir julle kan vertel, julle moet vir die oumense vra, húlle sal vir julle sê hoe dit was.

8Toe die Hoogste God vir die volke hulle lande gegee het, toe Hy gesê het dat die mense aan verskillende volke moet behoort, toe het Hy gesê waar die grense van die lande moet wees. Hy het gekyk hoeveel Israeliete daar is, en Hy het besluit hoeveel volke daar moet wees.

9Maar die Here het sy éie volk gekies, Jakob behoort aan Hom.

10Die Here het sy volk in die woestyn gekry, in 'n wilde wêreld waar niemand woon nie. Hy beskerm sy volk en Hy sorg vir hulle, Hy pas hulle op soos 'n mens sy oog oppas.

11'n Arend stoot sy kleintjies uit die nes en hy vlieg bokant hulle, hy maak sy vlerke oop en vang die kleintjies en dra hulle op sy vlerke.

12So lei die Here sy volk, Hy alleen doen dit, daar is nie 'n ander god by Hom nie.

13Hy het hierdie land vir sy volk gegee om dit te vat. Hulle kon die koring eet wat op die lande groei, hulle kon heuning uithaal uit die byneste in die rotse, hulle kon die olyf-olie kry van die olyfbome tussen die klippe.

14Hulle het melk gekry van beeste, skape en bokke, hulle het vet vleis gekry van skaap-lammers en skaap-ramme, en vleis van bokke en beeste uit die land Basan. Hulle het die beste koring geëet en die beste rooi wyn gedrink.

15Jesurun het vet en opstandig geword. Ja, julle het vet en dik geword, spekvet. Hulle het vir God gelos, God wat vir hulle gemaak het. Hulle was dom en opstandig teen die Rots wat vir hulle gered het.

16Hulle het vir God kwaad gemaak toe hulle gode van ander volke gedien het. Hulle het vir God hartseer gemaak toe hulle dinge gedoen het wat Hy haat.

17Hulle het ge-offer vir veldgode wat nie gode is nie, hulle het ge-offer vir gode wat hulle nie geken het nie, vir nuwe gode wat hulle voorvaders nie geken het nie.

18Julle het die Rots vergeet, maar die Rots is julle Vader, julle is God se kinders, maar julle het Hom vergeet.

19Toe die Here dit sien, was Hy hartseer oor sy seuns en sy dogters, Hy het hulle gelos.

20Hy het gesê: ‘Ek wil hulle nie meer sien nie, en Ek wil kyk hoe dit nou met hulle sal gaan. Hulle is slegte mense, hulle is heeltemal ontrou.

21Hulle het My kwaad gemaak toe hulle gode gedien het wat nie gode is nie. Hulle het My hartseer gemaak toe hulle beelde gemaak het, beelde wat niks beteken nie. Nou sal Ek hulle kwaad maak en Ek sal vir My 'n volk kies wat nie 'n volk is nie, Ek sal hulle hartseer maak en Ek sal vir My 'n volk kies wat dwaas is.

22Ek is kwaad, dit is soos 'n vuur wat brand tot in die doderyk daar onder, 'n vuur wat die aarde verbrand en alles wat uit die aarde kom, 'n vuur wat tot onder die berge brand.

23Ek sal hulle laat swaarkry, dit sal aanhou sleg gaan met hulle, Ek sal hulle skiet met al my pyle.

24Hulle sal flou word van honger, hulle sal pes kry, hulle sal nie gesond kan word nie, wilde diere sal hulle opvreet en giftige slange sal hulle pik.

25Daar sal oorlog wees in die strate, mense sal bang wees en wegkruip in hulle kamers. Niemand sal vry wegkom nie, nie jongmans of jongmeisies nie, nie babas of oumense nie.

26Ek het gedink Ek sal hulle almal laat sterf, niemand moet onthou dat hulle gelewe het nie.

27Maar Ek het gedink miskien sal die vyande spot en hulle sal die dinge wat gebeur het, verkeerd verstaan. Hulle sal miskien spog en sê: “Ons het hulle self oorwin, die Here het dit nie gedoen nie.” ’

28Ja, die vyande verstaan dit nie, hulle is nie verstandig nie.

29As hulle wysheid gehad het, dan sou hulle verstaan het wat gebeur het en hulle sou geweet het wat later nog sál gebeur.

30Een man van die vyand het 1 000 Israeliete gevolg en gejaag, twee manne van die vyand het 10 000 Israeliete laat vlug. Maar dit het gebeur omdat die Rots van die Israeliete hulle verkoop het, omdat die Here hulle gelos het.

31Ja, die Here is ons Rots, die vyande het nie so 'n rots nie, dit moet hulle weet.

32Hulle is soos 'n wingerdstok wat in Sodom en Gomorra gegroei het, 'n wingerdstok wat giftige druiwe dra.

33Uit daardie druiwe kom daar wyn wat so giftig is soos slange, dit is wyn wat mense laat sterf.

34Die Here sê: ‘Ek sal besluit wanneer Ek hulle sal straf.

35Ek sal die vyande straf oor wat hulle gedoen het, hulle voete gly, hulle sal gou val. Die dinge wat met hulle sal gebeur, sal gou gebeur.’

36Ja, die Here sal reg doen aan sy volk, Hy sal genadig wees vir sy dienaars wanneer Hy sien dat hulle swak is en dat min van hulle nog lewe.

37Hy sal vra: ‘Waar is julle gode nou, die gode wat julle moet beskerm?

38Waar is die gode wat die vet van julle offers eet en die wyn van julle drank-offers drink? Hulle moet nou begin om julle te help, hulle moet julle beskerm.

39Julle moet nou weet: Dit is Ek, net Ek. Daar is nie nog 'n God nie, net Ek is God. Ek maak dood en Ek laat lewe, Ek maak siek en Ek maak gesond. Niemand kan my volk wegvat van My nie.

40Ek tel my hand op na die hemel en Ek belowe, so seker soos Ek altyd sal lewe:

41Ek sal my swaard skerpmaak en Ek sal dit styf vashou in my hand. Ek sal my vyande straf oor alles wat hulle gedoen het, Ek sal die mense straf wat My haat.

42Wanneer Ek my pyle skiet en met my swaard kap, dan sal daar baie bloed vloei. Baie mense sal gevangenes word en hulle sal sterf, en die leiers van die vyande sal ook sterf.’

43Die ander volke moet die volk van die Here prys, want die Here sal almal straf wat sy dienaars doodgemaak het, Hy sal sy vyande straf oor wat hulle gedoen het, Hy sal versoening doen vir sy land en sy volk.”

44Moses het gekom en hy het al die woorde van hierdie lied vir die volk gesê, hy en Hosea seun van Nun.

45Nadat Moses dit alles klaar gesê het vir al die Israeliete,

46het hy vir hulle gesê: “Julle moet alles goed onthou wat ek vandag vir julle gesê het. Julle moet vir julle kinders sê dat hulle alles moet doen wat hierdie wette sê,

47want dit is belangrik vir julle, dit sal julle laat aanhou lewe en julle sal lank lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”

48Die Here het daardie selfde dag vir Moses gesê:

49“Jy moet opgaan teen die Abarim-berge, teen die Nebo-berg in die land Moab oorkant Jerigo, en jy moet kyk na die land Kanaän wat Ek vir die Israeliete gee om aan hulle te behoort.

50Daarna moet jy sterf op die berg waarteen jy opgegaan het, soos jou broer Aäron ook op Hor-berg gesterf het.

51Dit sal gebeur omdat julle altwee ontrou was aan My by die water van Meriba-Kades in die Sin-woestyn. Die Israeliete het dit gesien. Julle het nie vir die Israeliete gewys dat julle My eer omdat Ek die heilige God is nie.

52Ja, jy mag hier staan en jy mag na die land kyk, maar jy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Deuteronomy 32.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.