Amos 9
1 Ek het gesien die Here staan by die altaar. Hy het gesê: “Slaan stukkend die kapitele van die pilare van die tempel, sodat die deure se rame bewe en die stukke van die pilare op al die mense se koppe val. Ek sal self die mense wat oorbly, doodmaak met my swaard. Niemand sal kan vlug nie, nie een sal wegkom nie.
2 Wanneer hulle 'n gat grawe om in die doderyk te probeer kom, dan sal Ek hulle daar uithaal. Wanneer hulle probeer opklim na die hemel, dan sal Ek hulle daar afhaal.
3 Wanneer hulle bo-op die Karmel-berg gaan wegkruip, dan sal Ek hulle daar soek en hulle wegvat. Wanneer hulle vir My wil wegkruip onder in die see, dan sal Ek vir die slang daar sê om hulle te pik.
4 Wanneer hulle vyande hulle vang en hulle wegvat na 'n ander land, dan sal Ek hulle daar laat doodmaak in 'n oorlog. Ek sal na hulle kyk, nie om hulle te help nie, maar sodat dit sleg met hulle sal gaan.”
5 Die Here regeer oor alles. Wanneer Hy aan die aarde raak, dan smelt dit, en almal wat op die aarde woon, huil en treur. Al die mense in die land sal skrik en wegvlug soos die water in die Nyl-rivier wat vol word en wegloop.
6 Die Here het vir Hom 'n huis gebou hoog in die hemel. Hy het die ronde dak oor die aarde gesit. Hy bring die wolke uit die see en Hy laat dit reën op die land. Sy Naam is die Here.
7 Die Here het gesê: “Israeliete, julle is vir My soos die mense van die land Kus. Julle is nie anders nie. Dit is waar, Ek het die Israeliete uit Egipte gebring, maar Ek het ook die Filistyne uit die eiland Kaftor gebring en Ek het die Arameërs uit die land Kir gebring.
8 En nou sien Ek die Israeliete is 'n volk wat baie sonde doen. Ek sal hulle wegvee van die aarde af! Maar Ek sal hulle nie almal doodmaak nie.
9 Ek sal vir die volke sê wat hulle moet doen. Ek sal die Israeliete tussen die volke skud soos 'n mens koring in 'n sif skud. Die koringkorrels sal nie deur die sif op die grond val nie. So sal Ek die Israeliete skud in die sif.
10 Al die sondaars van my volk sal in die oorlog sterf. Hulle sê nou: ‘U sal ons nie straf en dit sleg laat gaan met ons nie.’ Maar hulle sal sterf.”
11 Die Here het gesê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek die nageslag van koning Dawid weer sal laat regeer. Hulle is soos 'n huis wat omgeval het, 'n muur wat afgebreek is. Maar Ek sal die huis weer bou, en hy sal weer wees soos hy altyd was.
12 My volk sal die Edomiete oorwin wat nog oorgebly het, en ook die ander volke wat aan My behoort.” Dit sê die Here. Die Here sal dit doen.
13 Die Here het gesê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer die Israeliete hulle koring moet afsny dadelik nadat hulle geploeg het. Hulle sal wyn moet maak dadelik nadat hulle die wingerde geplant het. Die wyn sal so baie wees dat dit teen die berge en die heuwels sal afloop.
14 Ek sal dit weer goed laat gaan met my volk, die Israeliete. Ek sal die stede wat die vyande afgebreek het, weer bou sodat die Israeliete daar kan woon. Hulle sal wingerde plant en die wyn drink. Hulle sal tuine maak en die vrugte eet.
15 Ek sal hulle help, en hulle sal in hulle eie land woon. Niemand sal hulle wegvat uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.” Dit sê jou God die Here.