Zephaniah 3
1 Wee die eiesinnige Jerusalem, besoedelde stad van verdrukking.
2 Hulle is ongehoorsaam en wil nie reggehelp word nie. Hulle vertrou nie op die Here nie, en aanbid nie hulle God nie.
3 Die stadsleiers is soos brullende leeus wat jag maak op hulle prooi. Die regters is wolwe wat snags aas soek en teen die môre niks oorlaat nie.
4 Die profete is verwaande leuenaars wat net hulle eie voordeel soek. Die priesters verontreinig die tempel en oortree God se voorskrifte.
5 Maar die Here bly nog in die stad. Hy doen geen onreg nie. Dag vir dag is sy uitsprake regverdig, elke nuwe dag sonder uitsondering. Maar niemand sien dit raak nie, en goddeloses ken geen skaamte nie.
6 “Ek het baie nasies uitgeroei, hulle verdedigingsmure vernietig. Ek het hulle strate so beskadig dat hulle onbegaanbaar is. Ek het hulle stede só verwoes dat geen inwoners oor is nie. Hulle is heeltemal verlate.
7 Ek het gedink: ‘Nou sal hulle My eer en respekteer! Hulle sal my voorskrifte nou seker met erns beskou. Dan sou dit nie nodig wees om die stad weer te tref nie.’ Maar die teendeel is waar. Hoe swaar Ek hulle ook al straf, met ywer gaan hulle voort om sondige dinge te doen.”
8 Maar nou sê die Here: “Wees geduldig, want die tyd breek aan vir My om met regspraak te begin. Ek sal die nasies versamel en koninkryke bymekaarmaak. My toorn en brandende woede sal Ek oor hulle uitstort. Die hele aarde sal verteer word deur die vuur van my woede.
9 “Dan sal Ek die volke ’n suiwer taal gee sodat hulle almal die Here aanroep en Hom saam aanbid.
10 Selfs my volk wat verstrooi is tot oorkant die riviere van Etiopië sal kom om vir My offers te bring.
11 Dan hoef julle nie langer skaam te wees vir wat julle gedoen het toe julle teen My in opstand gekom het nie. Ek sal ontslae raak van hoogmoediges en arrogante mense onder julle. Julle sal nie meer vol verwaandheid op my tempelberg aanbid nie.
12 Ek sal eenvoudiges en behoeftiges onder julle laat oorbly. Hulle sal op die Here vertrou.
13 Die mense van Israel wat oorbly, sal nie verkeerde dinge doen nie. Hulle sal nie leuens vertel nie en mekaar ook nie bedrieg nie. Hulle sal soos skape rustig wei en gaan lê om te slaap sonder om vir iemand bang te wees.”
14 Sing, Jerusalem! Skree hard, o Israel! Wees bly en juig met oorgawe, dogter van Jerusalem!
15 Die Here sal julle nie meer straf nie. Hy sal julle vyande verdryf. Die Here is Koning van Israel. Hy is by julle. Julle hoef nie meer enige rampe te vrees nie.
16 Daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie bang wees nie, Sion! Moenie moedeloos word nie.
17 Die Here jou God is by julle. Hy is ’n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.”
18 “Dié wat treur, maak Ek bymekaar, ver van die plek van ontmoeting. Dit is hulle wat uit jou voortkom en swaar dra aan die skande.
19 Ek sal in dié tyd afreken met almal wat julle onderdruk het, Ek sal die hulpelose mense help. Ek sal die verstrooides terugbring. Dié wat verneder is in ander lande, hulle naam sal Ek in eer herstel.
20 Op die regte tyd sal Ek julle bymekaarmaak en julle terugbring huis toe. Ek sal sorg dat volke van die wêreld julle weer ag en met respek behandel. Julle sal met julle eie oë sien hoe Ek julle lot verander, sê die Here!”