1***
2Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te loof, Allerhoogste;
3om soggens u goedheid aan te kondig, en in die aand u getrouheid,
4met snaarinstrumente, met die harp en die begeleiding met die lier.
5U groot dade maak my bly, Here! Ek juig oor u handewerk.
6Hoe groot is u werke, Here! Hoe diep is u gedagtes!
7Net ’n onkundige sal dit nie weet nie! Net ’n dwaas sal dit nie verstaan nie!
8Die goddeloses floreer soos onkruid, en boosdoeners woeker met sukses; tog sal hulle vir goed vernietig word.
9Maar U is hoog verhewe. U, Here, bestaan vir ewig.
10Maar u vyande, Here, u vyande sal sekerlik vergaan. Alle boosdoeners sal verstrooi word.
11U maak my sterk soos ’n buffel. U salf my met vars olie.
12Ek sal die einde van my vyande sien. Ek sal hoor sonder om te vrees wanneer boosdoeners teen my opstaan.
13Maar regverdiges sal blom soos ’n palmboom, en welig groei soos ’n seder van die Libanon.
14Geplant in die Here se huis, groei hulle weelderig in die voorhowe van ons God.
15Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig.
16Hulle sal sê: “Die Here is regverdig. Hy is my rots. By Hom is daar geen onreg nie.”