1Waarlik, God is goed vir Israel, vir hulle wat suiwer van hart is.
2Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor.
3Want ek het die verwaandes beny, die goddeloses se voorspoed het ek gesien.
4Hulle het geen lyding nie, en is vet en gesond.
5Hulle het nie sorge soos sterflinge, of teëspoed soos ander mense nie.
6Daarom is trots hulle halssnoer; geweld is vir hulle soos ’n kleed.
7Hulle uiterlike spel net voorspoed; hulle verwaandheid is grensloos.
8Hulle spot en praat net kwaad; hooghartig dreig hulle met geweld.
9Hulle lippe laster teen die hemel en hulle tonge spog op die aarde.
10So draai sy volk na hulle toe, en neem alles in wat hulle sê.
11“Besef God wat aangaan?” vra hulle. “Weet die Allerhoogste wat gebeur?”
12Kyk, so is goddelose mense: altyd sorgvry, besig om rykdom te vermeerder.
13Het ek dan tevergeefs die kwaad vermy, en my onskuld met ’n eed bevestig?
14Die hele dag lank moes ek ly, elke oggend is ek opnuut gestraf.
15As ek sou sê: “Ek sal só praat,” sou ek u kinders verloën het.
16Ek het nagedink om dit te verstaan; tog was dit vir my ’n moeilike taak,
17totdat ek ingegaan het in die heiligdom van God, en die uiteinde gesien het van die goddeloses.
18U plaas hulle op gladde plekke en laat hulle verval tot ’n puinhoop.
19In ’n oogwink is hulle vernietig, verslind deur verskrikking.
20Soos ’n droom wat ophou wanneer ’n mens wakker word, so verdwyn hulle beeld wanneer U ontwaak, o Here.
21Ek was verbitterd in my hart en verskeurd in my binneste.
22Ek was dwaas en onnosel; ek was dom soos ’n dier voor U.
23Tog is ek nog altyd by U; U hou my regterhand vas.
24U lei my met u raad, daarna sal U my opneem en in heerlikheid ontvang.
25Wie het ek in die hemel behalwe U? Ook op aarde soek ek net vir U.
26My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd.
27Dié wat ver van U is, sal omkom; dié wat ontrou is aan U, vernietig U.
28Maar wat my betref, dit is vir my goed om naby God te wees! Ek het geskuil by die oppermagtige Here, en sal bly vertel van al u wonders.