1Here, by U soek ek beskerming; laat my nooit beskaamd staan nie.
2Red my en verlos my, want by U is regverdigheid. Luister na my en maak my vry.
3Wees vir my ’n rots en ’n toevlug, ’n plek waarheen ek altyd kan vlug. U het reeds my redding bepaal, want U is my rots en my vesting.
4My God, red my uit die mag van goddeloses, uit die kloue van mense wat wreed en onregverdig is,
5want U, Here, is my hoop. Here, van kleins af het ek op U vertrou.
6U is my hulp vanaf geboorte; reeds voor geboorte het U vir my gesorg. Dis waarom ek U gedurig prys.
7Ek is ’n wonder vir baie, want U is my sterke toevlug.
8Ek hou aan om U te prys; die hele dag sing ek oor u heerlikheid.
9Moenie my eenkant toe stoot noudat ek oud geword het nie. Moenie my verlaat wanneer my kragte afneem nie.
10Want my vyande beplan teen my; dié wat my lewe soek, span saam teen my.
11Hulle sê: “God het hom verlaat. Kom ons agtervolg hom en vang hom, want niemand sal hom red nie.”
12O God, moenie ver wees van my nie. My God, maak tog gou en help my.
13Laat my aanklaers in skande omkom. Laat vernedering en oneer hulle tref, hulle wat my skade wil aandoen.
14Maar ek sal aanhou hoop, U meer en meer prys.
15Ek sal u regverdigheid bekendmaak, en die hele dag van u redding vertel, al is dit te veel om op te noem.
16Oppermagtige Here, ek kom om u magtige dade te prys, ek sal vir almal vertel dat U alleen regverdig is.
17O God, U het my van jongs af geleer, en nog steeds getuig ek van u wonderdade.
18O God, noudat ek oud en grys is, moenie my verlaat nie, sodat ek aan die nageslagte u mag bekend kan maak, en aan elkeen wat nog sal kom van u magtige werke kan vertel.
19U regverdigheid, o God, reik tot aan die hoogste hemele. U het wonderlike dinge gedoen. Wie is soos U, o God?
20U het diep nood oor my laat kom, maar U herstel my weer tot lewe. Uit die diepwaters van die aarde, uit die doderyk, rig U my weer op.
21U sal my in eer herstel en weereens my vertrooster wees.
22Dan sal ek U prys met die harp, want U is getrou, o God. Met sang en lier sal ek U loof, o Heilige van Israel.
23Van vreugde sal ek jubel en u lof besing, want U het my gered.
24Heeldag vertel ek van u geregtigheid. Dié wat my kwaad wou aandoen, is nou self beskaam en verneder.