1***
2Met ons eie ore het ons gehoor, o God, ons voorouers het ons vertel van alles wat U voorheen gedoen het in die dae lank gelede.
3U self het die heidense nasies uitgedryf deur u mag en die land aan ons voorouers gegee. U het hulle vyande vernietig, en ons voorouers vrygemaak.
4Hulle het nie die land met hulle swaarde verower, of die oorwinning deur eie krag behaal nie. Dit was deur u krag, deur u teenwoordigheid en u goedheid, omdat U hulle liefhet.
5U is my Koning en my God. U bepaal oorwinnings vir Jakob.
6Ons kan deur u krag ons vyande verslaan en ons aanvallers in u Naam vertrap.
7Ek steun nie op my boog of op my swaard om my te red nie.
8Want U gee die oorwinning oor ons vyande; U bring vernedering oor dié wat ons haat.
9O God, ons prys U die hele dag en loof u Naam voortdurend. Sela
10Maar nou het U ons weggestoot in skande. U trek nie saam met ons leërs na die geveg toe nie.
11U laat ons vlug voor ons vyande; dié wat ons haat, plunder na hartelus.
12U lewer ons uit soos slagskape; U het ons onder die nasies verstrooi.
13U volk het U verkoop vir niks en self het U nie daarby gebaat nie.
14U het ons ’n veragting gemaak by die bure, ’n bespotting en beskimping vir almal om ons.
15U het ons ’n spotnaam onder die nasies gemaak, almal skud maar net die kop daaroor.
16My skande is dag na dag voor my; oor my gesig is skaamte geskryf.
17Al wat ek hoor, is die lasteraar en die kwaadspreker. Al wat ek sien, is die vyand en die wreker.
18Dit het gebeur hoewel ons U nie vergeet het nie, en nie aan u verbond ontrou was nie.
19Ons het U nie verlaat nie, en nie van u paaie afgedwaal nie.
20Maar in die woestyn het U ons verpletter; donkerte en dood het U oor ons gebring.
21As ons opgehou het om ons God te dien of by vreemde gode hulp gaan vra het,
22sou God dit nie weet nie? Hy ken immers die geheime van die hart.
23Om u ontwil word ons elke dag doodgemaak, word ons behandel soos skape wat geslag moet word.
24Word wakker! Waarom slaap U, Here? Staan op! Moenie ons vir altyd verstoot nie!
25Hoekom kyk U anderpad? Hoekom kyk U verby ons ellende en verdrukking?
26Ons lê verneder in die stof, met die gesig in die grond.
27Staan op! Kom en help ons! Red ons ter wille van u troue liefde.