1***
2Ek sal u lof verkondig, Here, want U het my gered. U het my vyande verhinder om bly te wees oor my.
3Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered van die doderyk, U het verhoed dat ek saam met ander wegsak in die graf.
5Sing tot eer van die Here, julle wat getrou is! Loof sy heilige Naam.
6Sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy genade is lewenslank! In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.
7Toe ek voorspoedig was, het ek gesê: “Niks sal my ooit beweeg nie!”
8U goedheid, Here, was vir my soos ’n stewige berg. Maar toe U van my af wegdraai, was ek verskrik.
9Ek het na U geroep, Here. Ek het by U, Here, gepleit om genade:
10“Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf? Kan my stof U loof in die doderyk? Kan my stof u trou daar verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig. Help my tog, Here!”
12U het my droefheid verander in ’n dans van vreugde. U het my rouklere weggeneem en my met vreugde geklee.
13Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie. Here my God, ek sal U dank vir altyd.