1Prys die Here! Want dis goed om ons God te prys. Dis ’n vreugde en ’n genot om Hom te prys.
2Die Here herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel.
3Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde.
4Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam.
5Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie.
6Die Here ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond.
7Sing ’n danklied aan die Here; sing lofliedere vir ons God met begeleiding van die harp.
8Hy oordek die hemel met wolke, Hy verskaf reën vir die aarde en laat gras groei op die berghellings.
9Hy voed die wilde diere, en die jong kraaie wat skree vir kos.
10Die krag van ’n oorlogsperd beïndruk Hom nie; met die ratsheid van ’n krygsman neem Hy nie genoeë nie.
11Die Here verheug Hom in hulle wat Hom dien, in dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.
12Prys die Here, Jerusalem! Prys jou God, Sion!
13Want die sluitbalke van jou poorte het Hy versterk, en jou kinders geseën.
14Hy gee vrede oor jou grondgebied, versadig jou met die beste graan.
15Hy stuur sy bevele na die aarde, sy woorde word vinnig versprei.
16Hy stuur die sneeu, wit soos wol; Hy strooi ryp uit soos as,
17laat haelstene val soos broodkrummels. Wie kan standhou teen sy koue?
18Dan, op sy bevel, smelt alles weer. Hy laat sy winde waai, en die water loop.
19Hy maak sy woord bekend aan Jakob, aan Israel sy voorskrifte en gebooie.
20Vir geen ander nasie het Hy dit gedoen nie; sy bepalings ken hulle nie. Prys die Here!