1Ek het die Here lief, want Hy antwoord my smeekgebed.
2Omdat Hy na my geluister het, sal ek Hom aanroep solank ek lewe.
3Bande van die dood het my omring, angs van die doderyk het my oorval. Vrees en verdriet het my oorweldig.
4Toe roep ek die Here se Naam aan: “Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig. Ons God bewys barmhartigheid.
6Die Here beskerm die eenvoudiges. Ek was in nood, maar Hy het my gered.
7Nou kan ek weer gerus wees, want die Here was goed vir my.
8U het my van die dood gered, my oë van trane bevry, my voete van struikeling weerhou.
9Daarom wandel ek voor die Here in die land van die lewendes.
10Ek het geglo toe ek gesê het: “Ek is in groot ellende.”
11In my angs het ek uitgeroep: “Alle mense is leuenaars!”
12Hoe kan ek die Here vergeld vir al sy goeie dade aan my?
13Ek sal die beker van redding optel en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Die dood van sy getroue dienaars is kosbaar vir die Here.
16Here, ek is u dienaar. Ja, ek is u dienaar, seun van u dienares. U het my bevry van my bande!
17Ek sal ’n dankoffer aan U bring en die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk
19in die voorhowe van die huis van die Here, in die hart van Jerusalem. Prys die Here!