Proverbs 8NLV

1Wysheid self staan en roep. Insig laat haar stem hoor.

2Sy staan by die hoë plekke langs die pad. Sy staan daar waar die paaie mekaar kruis.

3Sy staan by die ingang van die stad. Sy roep uit by die poorte:

4“Ek roep na julle almal. Ek roep hardop na alle mense:

5Julle wat nog ervaring kortkom, moet verstandig word. Dié wat dwaas optree, moet insig ontwikkel.

6Luister na my. Ek het iets belangriks om te sê. Elke woord uit my mond is opreg.

7Ek praat die volle waarheid. Vir bedrog het ek nie tyd nie.

8Alles wat ek sê, is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie.

9Hulle wat insig het, weet dat ek reguit praat. Hulle wat na kennis soek, weet wat ek sê, is reg.

10Aanvaar eerder wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer. My kennis is meer werd as goud.

11Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks wat jy kan begeer wat teen wysheid kan opweeg nie.”

12“Ek, Wysheid, maak my tuis by dié wat verstand het. Ek weet waar om kennis en onderskeidingsvermoë te bekom.

13Hulle wat respek het vir die Here, haat dit wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, ’n verkeerde lewe, en slinkse woorde.

14Ek besit raad en goeie oordeel. Ek het insig en sterkte.

15Konings regeer met my hulp. Deur my maak regeerders die regte wette.

16Leiers neem deur my hulp leiding. Deur my maak vooraanstaande mense die regte uitsprake.

17Ek het hulle lief wat my liefhet. Hulle wat na my soek, sal my kry.

18Ek het rykdom en eer, uitsonderlike skatte en geregtigheid.

19Wat ek gee, is beter as die suiwerste goud. My beloning is beter as die suiwerste silwer.

20Ek loop die pad van reg en geregtigheid.

21Ek maak húlle ryk wat my liefhet. Hulle pakkamers maak ek propvol.”

22“Die Here het my heel eerste gemaak. Ek was al daar voor Hy die res gemaak het.

23Ek is voor die tyd al gevorm, heel aan die begin, voor die aarde daar was.

24Ek is gebore toe die diep waters nog nie eers daar was nie, toe die fonteine nog nie water gegee het nie.

25Ek het reeds gekom voor die berge gevestig is en daar heuwels was.

26Ek was daar voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het, voor Hy selfs die eerste grond van die aarde gemaak het.

27Ek was al daar toe Hy die hemelkoepel op sy plek geplaas het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het.

28Ek was al daar toe Hy die wolke daarbo gesit het en die fonteine onder die diep waters laat uitborrel het.

29Ek was alreeds daar toe Hy die see se grens bepaal het sodat dit nie die grens kan oorsteek wat Hy daarvoor gestel het nie. Ek was daar toe Hy die fondamente van die aarde afgemerk het.

30Soos ’n boumeester was ek elke dag langs Hom. Ek was elke dag sy vreugde. Die hele tyd het ek dit by Hom geniet.

31Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het. Die mense wat Hy gemaak het, het my vreugde gegee.”

32“My kinders, luister na my. Hulle wat op my pad bly, sal geseënd wees.

33Luister wat ek julle leer sodat julle wys kan wees. Moenie dit ignoreer nie.

34Dit sal goed gaan met elke mens wat na my luister, wat elke dag na my huis toe kom en buite by my deur vir my staan en wag.

35Hy wat my kry, kry die lewe self. Hy geniet die guns van die Here.

36Hy wat my nie wil vind nie, doen skade aan homself. Hy wat my haat, is lief vir die dood.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 8.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.