Proverbs 7NLV

1Bly altyd by wat ek vir jou sê, my seun. Koester wat ek vir jou voorskryf in jou binneste.

2Bly daarby sodat jy kan lewe. Laat dit wat ek vir jou leer vir jou so kosbaar wees soos die appel van jou oog.

3Sit dit aan jou vingers soos ’n ring. Skryf dit uit op die tafel van jou hart.

4Sê vir die wysheid: “Jy is my suster.” Maak insig ’n lid van jou familie.

5Dit sal jou weghou van die onsedelike vrou af. Dit sal jou beskerm teen die vreemde vrou met haar verleidelike praatjies.

6Ek was eendag by die venster van my huis, ek het deur die gordyn staan en kyk.

7Ek sien toe jongmense op straat wat nog baie moet leer. Tussen hulle was ’n jong man wat nie van beter geweet het nie.

8Hy het met die straat afgekom en naby die hoek van hierdie vrou se huis verbygegaan.

9Dit was so teen skemeraand, die donker het begin toesak.

10Die vrou, aangetrek soos ’n prostituut, het na hom toe geloop. Sy het slim planne gehad.

11Sy was luidrugtig en uitdagend en kon nie by die huis bly nie.

12Dán was sy in die strate en dán weer op die stad se plein, by elke hoek het sy gestaan en rondloer.

13Sy het by die jong man gekom en hom omhels. Ewe skaamteloos sê sy vir hom:

14“My maaltydoffers het ek vandag gebring, en my geloftes betaal.

15Ek het nou na jou toe gekom. Ek het na jou gesoek en hier het ek jou nou gekry.

16Ek het my bed oorgetrek met beddegoed van bont Egiptiese linne.

17Ek het my bed geurig gemaak met mirre, aalwyn en kaneel.

18Kom ons verlustig ons in liefdeslus, dwarsdeur die nag tot môre-oggend.

19My man is nie by die huis nie. Hy is weg op ’n lang reis.

20Hy is weg met ’n beursie vol geld. Eers met volmaan sal hy weer terugkom.”

21So oorreed sy die jong man met haar mooipraatjies. Sy verlei hom met haar gladde tong.

22Hy loop dadelik agter haar aan. Hy was soos ’n bees wat na die slagpale gelei word. Hy was soos ’n wildsbok wat in die slagyster trap

23en ’n pyl kloof sy hart. Hy was soos ’n voël wat blindelings in ’n vangnet vasvlieg. Hy het nie geweet dat sy lewe verby is nie.

24Luister na my, my seuns. Slaan ag op wat ek sê.

25Moenie julle ophou met so ’n vrou nie. Bly uit haar pad uit.

26Baie is al op haar kerfstok. Sy het al talle sterk mans so laat ondergaan.

27Haar huis is die kortpad na die doderyk, die voorportaal van die dood.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 7.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.