1Die woorde van Agur seun van Jake. ’n Uitspraak. Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal:
2Ek is te onkundig om ’n mens te wees. Ek het nie eens die verstand van ’n mens nie.
3Ek het nie wysheid aangeleer nie. Ek ken nie die heilige God nie.
4Wie kan na die hemel toe gaan en van daar af ondertoe kom? Wie kan die wind in sy twee hande vashou? Wie kan die waters in sy jas toedraai? Wie het die wye wêreld gemaak? Wat is sy naam? En die naam van sy seun? Sê tog as jy dit weet!
5Elke woord van God is getoets. Hy beskerm elkeen wat beskerming by Hom kom soek.
6Moenie iets byvoeg by wat Hy gesê het nie. Hy sal jou straf. Jy sal leuenaar genoem word.
7Twee dinge wil ek van U vra. Moenie dit weier solank ek leef nie.
8In die eerste plek, keer tog dat ek lieg. In die tweede plek, laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat nodig is.
9As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: “Nou wie is die Here?” As ek te arm is, sal ek steel en my God se Naam beswadder.
10Moet nooit ’n slaaf vals beskuldig by sy eienaar nie. Hy sal jou vervloek en dan moet jy die gelag betaal.
11Party mense vervloek hulle pa en weier om hulle ma te seën.
12Dis mense wat dink hulle is foutloos, maar die vuil kan nooit van hulle afgewas word nie.
13Hulle is vol hoogmoed en vol van hulleself.
14Hulle het tande soos swaarde en slagtande soos messe. Hulle teer op die hulpeloses en die armes onder mense.
15Die bloedsuier het twee dogters. Die een se naam is “Gee!” en die ander s’n ook “Gee!”. Daar is drie dinge, nee, eintlik vier, wat nooit tevrede is nie:
16die doderyk, die onvervulde begeerte om ma te word, grond wat uitgedor is, ’n vuur wat alles wil verteer.
17Die oë van ’n man wat spot met sy pa, en hy wat ongehoorsaam is aan sy ma — die kraaie in die droë lope sal sy oë uitpik; en roofvoëls sal hom opvreet.
18Daar is drie dinge wat vir my te verbasend is, nee, eintlik is daar vier wat ek glad nie kan verstaan nie:
19hoe ’n arend in die lug kan bly, hoe ’n slang teen ’n rots kan uitseil, hoe ’n skip op die see kan vaar en hoe ’n man die hart van ’n meisie wen.
20Net so verbasend is dit wanneer ’n wellustige vrou haar seksuele sin kry, haar mond afvee en dan kan sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.”
21Daar is drie, nee, eintlik vier dinge wat die lewe op aarde ondraaglik maak:
22’n slaaf wat koning geword het, ’n dwaas wat hom vol geëet het,
23’n vrou wat nie ’n man kon kry nie en toe tog getrou het, en ’n bediende wat by haar eienares oorgeneem het.
24Daar is vier goed op aarde wat klein is, maar uitsonderlik wys:
25miere wat nie sterk is nie, maar tog reeds weet om in die somer kos weg te sit;
26dassies wat nie baie krag het nie, maar tog tussen die rotse bly;
27sprinkane wat nie ’n koning het nie, en tog in gelid beweeg;
28geitjies wat jy met die hande vang, maar tog in paleise van konings bly.
29Daar is drie, nee, eintlik vier wat pronkerig kan beweeg:
30’n leeu, die koning van die diere, wat vir niks uitdraai nie;
31’n oorlogsperd; ’n bokram; ’n koning omring deur sy leër.
32As jy dom opgetree het deur jou aan te matig of slegte dinge beplan het, sit dan jou hand voor jou mond.
33Melk wat gekarring word, maak botter. ’n Hou op die neus laat die bloed loop. As jy mense kwaad maak, gaan daar rusie kom.