1Betlehem-Efrata, jy is ’n klein dorpie in Juda. Tog sal daar uit jou vir My ’n regeerder kom wat oor Israel sal heers. Sy oorsprong is uit die verre verlede.
2Hy sal die mense van Israel uitlewer totdat die vrou wat verwag, geboorte gee. Eers dan sal sy volksgenote terugkeer na die land van Israel.
3Hy sal oor sy kudde regeer met die krag van die Here en die magtige Naam van die Here sy God. Sy volk sal dan veilig kan woon, want hy sal deur die hele wêreld geëer word.
4Hy sal die bron van vrede wees. Wanneer Assirië ons land binneval en deur ons verdediging bars, sal ons meer as sewe herders, selfs agt leiers teen hulle laat veg.
5Hulle sal Assirië met die swaard regeer, die land Nimrod by sy ingange. Hy sal ons red van die Assiriërs as hulle ons grense oorsteek en ons land binneval.
6Die mense van Israel wat oorbly, sal tussen die talle volke wees soos dou wat die Here stuur. Hulle sal wees soos reën wat op die gras val. Geen mens het beheer daaroor nie.
7Dié van Israel wat oorbly, sal soos ’n sterk leeu tussen die talle volke wees. Die ander volke sal wees soos hulpelose skape, niemand sal hulle kom red nie.
8Israel sal teen hulle teenstanders in opstand kom, hulle sal al hulle vyande uitroei.
9Die Here sê: “In dié tyd sal Ek ook al jou perde en jou strydwaens vernietig.
10Ek sal jou mure platslaan en al jou vestings afbreek.
11Ek sal jou heksery stopsit en jou waarsêers uitroei.
12Ek sal al jou afgode en jou klippilare vernietig. Jy sal nooit weer jou eie handewerk aanbid nie.
13Jou gewyde pale vir die vrugbaarheidsgodin sal Ek vernietig en jou stede verwoes.
14Ek sal in woede wraak neem op al die nasies wat weier om My te gehoorsaam.”