Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Micah 1

:
Afrikaans - NLV
1 Gedurende die bewind van Jotam, Agas en Hiskia het die Here boodskappe vir Miga van Moreset gegee. Hy het visioene gesien wat bestem was vir Samaria en Jerusalem.
2 Let op, nasies van die wêreld, julle wat die aarde bewoon! Die oppermagtige Here kla julle aan. Die Here sal getuig uit sy heilige tempel.
3 Kyk, die Here is op pad! Hy verlaat sy troon en kom af aarde toe. Hy kom loop hier op die hoë plekke.
4 Die berge smelt onder Hom. Soos was wat smelt, vloei hulle die valleie binne; soos water wat afvloei teen die heuwels.
5 Hoekom gebeur dit? Omdat Israel en Juda sonde doen en opstandig is. Wie moet die blaam dra vir Israel se opstand? Is dit nie Samaria nie? Waar in Juda is die offerplekke vir die afgode? Is dit nie Jerusalem nie?
6 “Ek gaan Samaria tot ’n puinhoop maak, ’n plek om wingerde te plant. Die klippe waarmee die stad gebou is, gaan Ek in die vallei laat afrol. Die fondamente gaan Ek blootlê.
7 Al die beelde in die stad sal stukkend geslaan word. Al die skatte uit prostitusie verdien, sal met vuur verbrand word. Al haar afgodsbeelde sal Ek vernietig. Sy het uit prostitusie haar verdienste bekom. Vir die doel van prostitusie sal hulle weer gebruik word.”
8 Daarom sal ek huil en treur, sal ek kaalvoet rondloop, sonder klere. Ek sal tjank soos ’n jakkals en brom soos ’n volstruis.
9 My volk se wond is ongeneeslik. Dit tref die mense van Juda. Dit reik selfs tot by die poorte van Jerusalem.
10 Moenie dit in Gat vertel en daaroor huil nie. Mense van Bet-Leafra, rol liewer in die stof as teken van julle ontsteltenis.
11 Inwoners van Safir, gaan in ballingskap, naak en vernederd. Inwoners van Saänan, waag dit nie buite nie. Die mense van Bet-Esel treur, want hulle stad se fondasie is weggeruk.
12 Die inwoners van Marot wag in spanning dat verligting sal kom, want die Here se oordeel het al gekom tot by die poorte van Jerusalem.
13 Inwoners van Lakis, span in die strydwaens! In Lakis het die sonde van Juda begin. Die ontrouheid van Israel het by julle begin.
14 Stuur ’n afskeidsgeskenk na Moreset-Gat. Die dorp Aksib het die konings van Israel mislei.
15 Inwoners van Maresa, Ek stuur ’n oorwinnaar teen julle. Die eer van Israel sal tot by Adullam kom.
16 Skeer van hartseer ’n kaal kol op julle koppe ter wille van die kinders wat julle liefhet. Skeer julle koppe kaal soos ’n aasvoël. Want hulle sal van julle weggevat word en in ballingskap geneem word.