1Bildad die Suagiet het Job geantwoord:
2“Hoe lank gaan jy nog so aanhou praat? Jou woorde is soos ’n wind wat alles wegvee.
3Verdraai God die reg? Verdraai die Almagtige wat reg is?
4Jou kinders het klaarblyklik teen Hom gesondig. Daarom het hulle hulle straf verdien.
5Maar as jy na God roep en die Almagtige vra om genade aan jou te bewys;
6as jy opreg en sonder sonde lewe, sal Hy opstaan en jou weer gelukkig maak in jou huis.
7En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig.
8“Vra vir die vorige geslag. Luister na die ervaring van jou voorvaders.
9Ons is maar gister eers gebore. Ons weet so min! Ons dae op aarde gaan verby soos ’n skaduwee.
10Dié wat voor ons geleef het, sal ons leer, uit die wysheid van vorige geslagte sal hulle ons onderrig.
11Groei riete buite ’n moeras? Floreer vleigras waar daar nie water is nie?
12As dit nog te jonk is om gesny te word, verdroog dit vinniger as gras.
13So gaan dit met iemand wat vergeet van God. Die verwagting van die goddelose kom tot niks.
14Alles waarop hulle bou, val inmekaar. Hulle steun op ’n spinnerak.
15Hulle dink hulle huise bied sekuriteit. Maar dit hou nie. Hulle probeer daaraan vasklou, maar dit bly nie staan nie.
16Hulle lyk soos ’n welige struik in die son. Sy takke sprei uit oor die hele tuin.
17Die wortels groei deur klippe sodat dit stewig staan tussen rotse.
18Maar wanneer dit uit sy plek uitgetrek is, mis niemand dit nie.
19Dis die einde van sy lewe. Ander groei in sy plek.
20“Maar kyk: God verwerp nooit ’n mens wat opreg voor Hom leef nie. So laat Hy dit nie goed gaan met die kwaaddoener nie.
21Hy sal jou weer met vrolikheid vul en jou laat uitroep van vreugde.
22Dié wat jou haat, sal beskaamd staan. Die tent van die bose mens sal vernietig word.”