1“Omdat die krokodil so wreed is, sal niemand dit waag om hom wakker te maak nie. Wie sal dan teenoor My kan staan?
2Wie wil dan aan My eise stel dat Ek moet betaal? Alles onder die hemel behoort immers aan My.
3“Ek wil nog praat oor die krokodil se krag en sy ontsaglike liggaamsbou en sierlike vorm.
4Wie kan sy vel aftrek? Wie kan sy dik pantser deurboor?
5Wie waag om sy bek oop te ruk? Sy verskriklike tande maak jou bang!
6Sy skubbe vorm ’n skild op sy rug, dig aaneengeskakel.
7Hulle is so dig opmekaar; geen lug kom daardeur nie.
8Hulle sluit so dig opmekaar; hulle skakel inmekaar en kan nie geskei word nie.
9As hy nies, flits daar ligte. Sy oë is rooi soos die oggendson.
10Vuur kom uit sy bek vonke skiet daaruit.
11Rook kom uit sy neusgate soos stoom uit ’n kokende pot op ’n vuur.
12Sy asem steek vure aan die brand. Vlamme kom uit sy bek.
13Sy nek is baie sterk. Almal staan verskrik as hulle hom sien.
14Sy vleis is ferm saamgepak. Dit is hard, jy kan dit nie beweeg nie.
15Sy hart is so hard soos klip, net soos ’n meulsteen.
16Sterkes vlug as hy opstaan, vervul met vrees wanneer hy beweeg.
17Geen swaard kan hom stop nie, nóg spies, nóg pyl of skerp harpoen.
18Yster is vir hom soos strooi, en brons soos hout wat verrot.
19Hy vlug nie vir ’n pyl nie. Klippe uit ’n slingervel is vir hom soos strooi.
20’n Knopkierie doen niks aan hom nie. Hy lag vir ’n werpspies wat hom tref.
21Sy pens is bedek met skubbe so skerp soos glas. Dit laat ’n spoor soos ’n dorsslee in die grond.
22Hy laat die diep water kook soos in ’n pot. Hy roer die see soos ’n pot salf.
23Agter hom lê ’n blink streep op die water. Die see word wit van die skuim.
24Daar is geen skepsel so vreesloos soos hy op die hele aarde nie.
25Hy is ’n trotse skepsel, die koning van die diere.”