1“Ek het myself belowe dat ek nooit na ’n jong meisie sal kyk om haar te begeer nie.
2Wat het God daarbo vir ons gekies? Wat is ons erfdeel van die Almagtige?
3Dit is ellende vir die kwaaddoener en rampe vir die boosdoener.
4Sien Hy nie hoe ek optree nie? Tel Hy nie elke tree wat ek gee nie?
5“Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg?
6Laat God my dan weeg met die regte maatstaf. Hy ken my onskuld.
7Het ek van die regte pad afgedwaal? Of het ek iets begeer wat ek gesien het? Is ek skuldig aan enige ander sonde?
8Laat iemand anders dan oes wat ek geplant het en alles uitpluk wat ek gesaai het.
9“As ek verlei is deur ’n vrou of my buurman se vrou begeer het,
10mag my vrou aan ’n ander behoort en ander mans by haar slaap.
11Want wellus is ’n skandelike sonde, ’n misdaad wat gestraf moet word.
12Dit is ’n vernietigende vuur. Dit sou alles verwoes het wat ek besit.
13“As ek onregverdig was teenoor my manlike en vroulike werkers, of geweier het om na hulle te luister,
14hoe sou ek God in die oë kon kyk wanneer Hy my tot verantwoording roep? Wat sou ek antwoord as Hy my daaroor ondervra?
15Want Hy het my en my werkers gemaak. Hy is ons almal se Skepper.
16“Het ek geweier om die armes te help? Of die hoop vernietig van die weduwees wat na my gekyk het vir hulp?
17Was ek suinig met my kos en het ek geweier om dit te deel met honger weeskinders?
18Nee! Van jongs af sorg ek vir weeskinders soos ’n pa. My hele lewe lank gee ek om vir weduwees.
19Waar ek ook al mense dakloos en ’n arm man sonder klere gesien het,
20het hulle my geprys omdat ek vir hulle wolklere gegee het om hulle warm te hou.
21As ek gewelddadig was teenoor ’n weeskind omdat ek gedink het ek sou daarmee wegkom —
22mag my arm dan uit sy potjie gedraai word! Mag my arm van my skouer afgeruk word!
23Dit sou beter wees as om onder die oordeel van God te kom. Want as ek teen die Allerhoogste moet staan, watter hoop is daar vir my?
24“Het ek op geld vertrou, of gedink is ek veilig omdat ek baie goud besit?
25Hang my geluk af van my rykdom en alles wat ek besit?
26Het ek ooit gekyk na die son wat skyn, of na die maan se silwerbaan deur die ruimte,
27en my heimlik laat verlei om hulle te aanbid?
28As dit so was, sou regters my gestraf het, want ek sou die God van die hemel verloën het.
29“Het ek ooit gejuig by die ondergang van my vyande? Of was ek bly as hulle skade gely het?
30Nee, ek het nooit gesondig deur enigiemand te vervloek of iemand te verwens nie.
31My werkers het nooit gesê dat ek iemand laat honger ly nie.
32Ek het nooit ’n vreemdeling weggewys nie. My deur het altyd vir almal oopgestaan.
33Het ek ooit probeer om my sondes weg te steek soos mense graag doen? Het ek my ongeregtighede probeer ontken?
34Het ek stilgebly daaroor en nie buitentoe gegaan nie omdat ek bang was dat mense op my sou neersien en my verag?
35“As daar maar net iemand was wat na my wou luister en my kant van die saak wou sien! Kyk, ek teken my naam as my verdediging. Laat die Almagtige my wys dat ek verkeerd is. Laat my Aanklaer die klag teen my uitskryf!
36Dan sou ek die aanklag teenstaan. Ek sou dit dra soos ’n kroon.
37Want ek sou Hom presies sê wat ek gedoen het. Ek kan voor Hom staan, soos ’n prins.
38“As die grond wat ek bewerk my aankla, en al die ploegvore saam ween,
39as ek dit wat daaruit opgekom het, geëet het sonder om te betaal, of die eienaars vermoor het,
40laat daar dan dissels groei op daardie land in die plek van koring, en onkruid in die plek van gort.” Hier eindig Job se woorde.