1Ten einde laaste het Job begin praat. Hy het die dag waarop hy gebore is, vervloek.
2Hy het gesê:
3“As my geboortedag tog nooit aangebreek het nie, en die nag toe daar gesê is: ‘’n Seun is gebore.’
4As daardie dag tog donker gebly het en God daarbo dit nie raakgesien het nie, en geen lig daardie dag geskyn het nie!
5Mag duisternis en donkerte dit weer opeis en ’n wolk dit oorskadu. Mag donkerte die dag verskrik.
6Mag diep duisternis daardie nag wegneem. Mag dit nooit getel word as ’n dag in die jaar nie. Mag dit nie tussen die maande verskyn nie.
7Mag daardie nag onvrugbaar gebly het. Mag dit vir niemand enige vreugde bring nie.
8“Mag mense wat dae vervloek, ook hierdie dag vervloek, so ook die mense wat die seemonster* kan oproep.
9Die sterre van daardie oggend moes verduister gewees het. Die dag moes tevergeefs gewag het op lig en nie die dag sien breek het nie.
10Want dit het nie verhoed dat ek gebore word nie, het nie smart vir my weggesteek nie.
11“Hoekom het ek nie by geboorte gesterf en omgekom terwyl ek gebore is nie?
12Hoekom was daar ’n skoot om my op neer te sit, twee borste waaraan ek kon drink?
13Want dan sou ek in vrede in die graf kon lê, en rustig in die dood geslaap het
14saam met konings en raadgewers van die aarde wat puinhope herbou het,
15met vorste wat goud besit het en huise vol silwer.
16Hoekom is ek nie maar in die grond weggesteek soos ’n misgeboorte, soos ’n doodgebore kind wat nie die daglig gesien het nie?
17Daar staak die goddeloses die onrus, en daar kan die vermoeides rus.
18Gevangenes geniet hulle rus, hulle hoor nie die stem van die slawedrywer nie.
19Daar is geringes en vernames gelyk, en die slaaf is vry van sy baas.
20“Hoekom gee God lig aan mense wat moeg is, lewe vir die wat verbitterd is?
21Hulle wens dat hulle kan doodgaan, maar die dood ontwyk hulle. Hulle soek die dood eerder as verborge skatte.
22As hulle uiteindelik doodgaan, is dit vir hulle ’n groot verligting en vreugde.
23Hoekom moet mense wat niks van die toekoms verwag nie, aanhou lewe, mense vir wie God aan swaarkry oorgegee het?
24Versugting is my voedsel, my kreune word uitgegiet soos water.
25Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom. Dit waarvoor ek bang was, het nou met my gebeur.
26Ek ken geen rus en vrede nie. Daar is vir my geen blaaskans meer nie, net moeilikheid.”