1“My oë het dit alles gesien, en my ore het gehoor en het dit verstaan.
2Ek weet net soveel as julle. Julle is niks beter as ek nie.
3Hoe wens ek dat ek reguit met die Almagtige kon praat! Ek wil my saak self aan God gaan stel.
4Julle beswadder my met leuens. Julle is niks anders as kwaksalwers nie!
5Bly liewer stil! Dis die slimste ding wat julle kan doen!
6Luister na my klag. Gee aandag aan my betoog.
7Verdedig julle God met leuens en gebruik julle oneerlike argumente om sy ontwil?
8Is julle partydig vir Hom? Wil julle God se saak verdedig?
9Wees versigtig dat Hy nie uitvind wat julle doen nie! Dink julle dat julle Hom kan bedrieg soos ’n mens?
10Nee, julle sal by Hom in die moeilikheid wees as Hy uitvind dat julle in hierdie hofsaak kant kies.
11Vervul sy verhewe mag julle nie met skrik nie? Word julle nie aangegryp deur vrees vir Hom nie?
12Die waarde van julle stellings is soos as. Julle verdediging is so broos soos ’n kleipot!
13“Bly nou stil en laat my alleen! Laat my praat, en ek sal die gevolge dra.
14Waarom sal ek my lewe waag en sê wat ek dink?
15God kan my maar tref, maar ek het geen ander hoop nie. Ek gaan my saak voor Hom stel.
16Maar dít is wat my sal red: dat ek nie Godloos is nie. As ek so was, sou ek nie kon kom in sy teenwoordigheid nie.
17Luister goed na wat ek nou gaan sê, en neem dit ter harte.
18Ek het my saak voorberei. Ek sal my onskuld bewys.
19Wie kan hieroor met my stry? As iemand my verkeerd bewys, sal ek swyg en sterf.
20O God! Daar is twee dinge wat ek van U wil smeek, dan sal ek voor U kan staan.
21Vat net u hand weg van my en moet my nie verskrik met u ontsagwekkende teenwoordigheid nie.
22Ontbied my nou, en ek sal antwoord! Of laat my eerste praat sodat U kan antwoord.
23Sê vir my wat ek verkeerd gedoen het. Wys my my opstand en my sonde.
24Waarom draai U weg van my? Waarom beskou U my as u vyand?
25Sou U ’n windverwaaide blaar skrik maak, of jaag agter ’n grasstoppel aan?
26U het bittere aanklagte teen my gelê. U skryf al die sondes op vanaf my jeug.
27U sit my voete in ’n blok. U let op al my paaie en volg al my spore.
28“Ek droog weg soos hout wat verrot, soos ’n motgevrete kleed.”