1Sofar die Naämatiet het Job geantwoord:
2“Moet iemand nie antwoord op hierdie stortvloed van woorde nie? Is ’n mens onskuldig net omdat jy baie kan praat?
3Moet ek stilbly te midde van jou sinlose gepraat? Wanneer jy God tart, moet iemand jou nie skaam maak nie?
4Jy sê vir God: ‘My sienswyse is suiwer. Ek is onskuldig voor U!’
5As God tog net wou praat! As Hy jou net wou sê wat Hy dink!
6As Hy jou net kon vertel van die geheime van wysheid, want ware wysheid is nie eenvoudig nie. Luister! God straf jou beslis minder as dit wat jy verdien.
7“Kan jy die geheime van God ontrafel? Kan jy alles ontdek wat daar is om te weet van die Almagtige?
8Daardie kennis is hoër as die hemel. Wie is jy om daaroor te praat? Daardie kennis is dieper as die doderyk. Wat kan jy weet in vergelyking met Hom?
9Dit is groter as die aarde en breër as die see.
10“As God kom en iemand in die tronk sit, wie kan Hom keer? Of as Hy iemand hof toe sleep, wie gaan Hom stop?
11Want Hy ken die valse mense. Hy weet van al hulle sondes.
12’n Dom mens sal net so min wys word as wat ’n wildedonkie ’n mak vul sal kry.
13“As jy net jou hart aan Hom wil wy en jou hande na Hom oplig in gebed!
14Raak ontslae van jou sondes. Los alle ongeregtigheid agter jou.
15Dan sal jou gesig verhelder in onskuld. Jy sal sterk wees en vry van angs.
16Jy sal jou swaarkry vergeet. Dit sal weg wees soos water onderdeur ’n brug.
17Jou lewe sal helder wees soos in die middel van die dag, alle donkerte so helder soos die oggendlig.
18Jy sal vol moed wees omdat jy hoop sal hê. Jy sal beskerm wees en rus in veiligheid.
19Jy sal sonder vrees gaan slaap, en baie sal na jou kyk vir hulp.
20Maar die kwaaddoeners sal verblind wees. Daar is vir hulle geen ontsnapping nie. Hulle hoop verander in wanhoop.”