Isaiah 57NLV

1Die regverdige gaan dood en niemand neem dit ter harte nie. Die getroues kom om voor hulle tyd. En niemand verstaan dat regverdiges sterf om aan boosheid te ontkom nie.

2Hulle wat opreg leef, gaan na waar daar vrede is, en vind rus in die graf.

3“Maar kom hier, julle kinders van towenaars, julle afstammelinge van egbrekers en prostitute!

4Met wie spot julle? Vir wie lag julle en steek julle tong uit? Julle is mos kinders van sondaars, die afstammelinge van leuenaars!

5Julle brand van wellus onder elke groen boom. Julle slag julle kinders in elke vallei, onder elke oorhangende rots.

6Julle gode is die gladde rotse in die valleie. Vir hulle het julle drankoffers uitgegiet en graanoffers aangebied. Moet ek tevrede daarmee wees?

7Op hoë berge en heuwels het jy ’n bed ingerig vir jou onsedelikhede deur afgode te aanbid. Jy het daarheen opgegaan om offers te bring.

8Agter toe deure het jy jou afgodsbeelde opgestel. Jy was ontrou aan My en het jou kaal uitgetrek. Jy het op die bed geklim, en vir hulle plek gemaak. Jy het ’n verbintenis met jou bedmaats gemaak en hulle naaktheid geniet.

9Jy het olyfolie en parfuum as offers vir Molek gegee. Jy het boodskappers na ver plekke gestuur, selfs tot in die doderyk.

10Jy het moeg geword van jou soektog, maar jy het nooit erken: ‘Dit is sinloos!’ nie. Jy het jouself weer versterk, en dan maar net aangegaan.

11“Hoekom was jy banger vir hulle as vir My? Hoekom onthou jy My nie meer nie en dink jy nie meer aan My nie? Is dit omdat Ek lank stilgebly het, dat jy My nie meer dien nie?

12Daarom sal Ek jou optrede ontbloot. Jou gode sal jou nie kan help nie.

13As jy roep om hulp, mag jou klomp afgode jou red! Maar ’n wind sal hulle wegwaai en hulle omstamp. Wie egter tot My sy toevlug neem, sal die hele land erf en my heilige berg besit.”

14Dan sal die Here sê: “Herbou die pad! Verwyder die rotse en klippe uit die pad van my volk!”

15So sê die hoë, verhewe Een wat vir altyd bestaan, wie se Naam die Heilige is: “Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar ook saam met die mens wat berouvol en nederig is. Ek gee nuwe krag aan dié wat nederig is en aan dié wat verdruk word, en nuwe krag aan dié wat berouvol is.

16Want Ek kla nie vir altyd aan nie en bly nie vir lank kwaad nie. Want dan sou dit die einde wees van die mens wat Ek geskep het en aan wie Ek die lewensasem gegee het.

17Ek was baie kwaad oor my volk se sonde en hebsug. Ek het hulle gestraf en Myself in woede onttrek aan hulle. Maar hulle het net bloot aangehou om te sondig.

18Ek het gesien wat hulle doen, maar nogtans sal Ek hulle gesond maak! Ek sal hulle begelei en dié wat treur, vertroos.

19Dan sal hulle My weer loof. En hulle sal vrede hê, almal van ver en naby. Want Ek sal hulle almal genees,” sê die Here.

20“Maar die goddeloses is soos die onstuimige see. Dit kom nooit tot rus nie. Die golwe hou aan om slyk en modder uit te stoot.

21Daar is geen vrede vir die bose mense nie,” sê my God.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 57.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.