Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Isaiah 47

:
Afrikaans - NLV
1 “Klim af, gaan sit in die stof, dogter van Babel. Kom sit in die stof sonder jou troon, stad van die Babiloniërs. Niemand noem jou weer die jong vrou wat fyn en delikaat is nie.
2 Vat swaar maalklippe en maal die koring. Haal af jou sluier en tel jou rok op. Ontbloot jou en stap deur die stroom.
3 Want jy sal kaal wees. Jou skaamte sal ontbloot word. Want Ek neem wraak, en sal niemand spaar nie.”
4 Ons Verlosser die Here, die Almagtige, is sy Naam is die Heilige van Israel.
5 “Gaan sit doodstil in ’n donker plek, dogter van Babilon. Jy sal nooit weer genoem word koningin van koninkryke nie.
6 Want Ek was kwaad vir my volk. Ek het my erfdeel onrein verklaar. Daarom het Ek hulle gestraf en hulle in jou hand oorgegee. Maar jy het geen genade vir hulle betoon nie. Selfs die oumense het jy ’n swaar vrag laat dra.
7 Jy het by jouself gedink: ‘Ek sal altyd bestaan, ’n koningin wees vir altyd!’ Maar jy het nie gedink aan die gevolge van jou dade nie.
8 “Daarom, luister mooi na My. Jy is ’n wellustige vrou wat haar verlustig in haar sekuriteit en sê: ‘Ek alleen bestaan, daar is niemand soos ek nie. Ek sal nooit ’n weduwee wees of my kinders verloor nie.’
9 Dis juis hierdie twee dinge wat jou skielik sal oorval, op dieselfde dag: Jy sal jou kinders verloor en jy sal ’n weduwee word. Hierdie rampe gaan jou tref ondanks jou toorkunste en jou beswerings.
10 Jy het op jou boosheid vertrou en gesê: ‘Niemand sien wat ek doen nie!’ Jou wysheid en jou kennis het jou mislei toe jy gedink het: ‘Ek alleen bestaan, daar is niemand soos ek nie.’
11 Maar rampe sal jou skielik oorval en jy sal dit nie kan besweer nie. Ellende gaan oor jou kom, en jy sal jou nie met ’n losprys kan loskoop nie. ’n Ramp wat jy nie kan voorsien nie, sal skielik oor jou kom.
12 “Hou maar aan met jou toorkunste, met jou beswerings wat jy al van kleintyd beoefen het. Dalk het jy sukses, dalk sal jy mense afskrik.
13 Al die raad wat jy gekry het, het jou net moeg gemaak. Laat jou voorspellers opstaan en jou kom red. Laat die sterrekykers wat maand vir maand vir jou voorspellings maak, jou red van wat jou gaan tref.
14 Maar hulle is so nutteloos soos droë gras wat in die vuur brand. Hulle kan hulleself nie red van die mag van die vuur nie! Daar is nie eens kole om jou warm te maak nie, geen vuur waarby jy kan sit nie.
15 Dis al wat hulle vir jou kan doen, hulle met wie jy jou van jongs af besig gehou het. Hulle dwaal almal op hulle eie koers. Nie een van hulle kan jou red nie.”