Isaiah 26NLV

1Daardie dag sal almal in die land van Juda hierdie lied sing: “Ons stad is nou sterk! Ons is omring deur die mure van God se redding.

2Maak oop die poorte vir almal wat regverdig is. Laat die getroues binnekom.

3U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.

4Vertrou deurgaans op die Here, want die Here God is vir altyd ’n veilige toevlug.

5Hy verneder die trotses, en die arrogante stad gooi Hy in die stof neer. Hy gooi die mure om!

6Die arm en verdrukte mense vertrap dit onder hulle voete.

7“Die pad van die regverdige is reguit. Regverdige Een, U maak die pad van die regverdige gelyk.

8Here, ons doen graag wat U van ons vra. Ons enigste begeerte is om u Naam te eer.

9Heelnag lank soek ek na U, in die môre smag ek na U. Eers wanneer U kom om die aarde te oordeel, sal mense leer om te doen wat reg is.

10Uit die goedheid wat U aan die bose mense bewys, leer hulle nie wat reg is nie. Selfs waar daar reg geskied, doen hulle nog die verkeerde en steur hulle nie aan die mag van die Here nie.

11O Here, hulle luister nie wanneer U hulle dreig nie. Wys hulle dat U gretig is om u volk te beskerm. Miskien kry hulle dan skaam. Laat u vuur u vyande verteer.

12“Here, U sal ons vrede gee. Alles wat ons bereik het, het U vir ons gedoen.

13Here ons God, ander het oor ons regeer, maar ons aanbid U alleen.

14Dié wat ons gedien het, is nou dood en weg. Hulle sal nooit weer terugkom nie! U het hulle gestraf en hulle vernietig, en hulle is lankal vergete.

15Ons prys U, Here! U het ons volk groot gemaak. U het ons landsgrense uitgebrei! So het U u mag getoon.

16“Here, in ons nood het ons U gesoek. Ons het na U geroep toe U ons gestraf het.

17Ons is soos ’n swanger vrou wat inmekaarkrimp van pyn. Só, Here, was ons in u teenwoordigheid.

18Ons was swanger, en het inmekaargekrimp van pyn, maar ons het geboorte gegee aan wind. Ons kon nie die wêreld red nie. Daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie.

19“Tog het ons dié versekering: Dié wat aan God behoort, sal lewe. Hulle liggame sal weer opstaan! Dié wat in die aarde slaap, staan op en sing van vreugde! Soos die dou lewe gee, so gee U krag tot lewe. Die aarde sal hulle wat gesterf het weer lewend teruggee.”

20Gaan huis toe, my volk, en sluit die deure agter julle. Kruip weg vir ’n kort rukkie tot sy toorn bedaar het.

21Kyk, die Here kom van die hemel af om die mense van die aarde te straf oor hulle sondes. Die aarde sal nie meer dié wegsteek wat vermoor is nie. Hulle sal uitgebring word sodat almal hulle kan sien.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 26.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.