Isaiah 19NLV

1Hierdie boodskap het na my gekom oor Egipte: Kyk! Die Here is op pad na Egipte toe. Hy ry op ’n vinnige wolk. Egipte se afgode bewe voor Hom. Die Egiptenaars smelt weg van vrees.

2“Ek laat die Egiptenaars teen mekaar baklei, broer teen broer, buurman teen buurman, stad teen stad, provinsie teen provinsie.

3Die Egiptenaars sal moed verloor. Ek sal hulle planne verydel. Hulle sal by hulle afgode pleit vir wysheid. Hulle sal geeste oproep, en mediums en besweerders om raad gaan vra.

4Ek gee Egipte oor aan ’n wrede meester, ’n harde koning,” sê die Here, die Here, die Almagtige.

5Die see sal opdroog, die rivier sal leeg word.

6Die Nyl se kanale sal sleg ruik. Egipte se waterstrome sal opdroog. Die riete en biesies sal verlep.

7Die papirusplante langs die Nyl sal opdroog en wegwaai. Die oeste sal wegdroog. Alles sal verdwyn.

8Die vissermanne sal van hartseer huil. Dié wat met ’n hoek visvang en dié wat nette in die rivier oopgooi, sal wegkwyn.

9Die wewers wat vlas en katoen gebruik om te weef, sal geen hoop oorhê nie.

10Hulle sal afgehaal wees. Die loonarbeiders sal siek wees van bekommernis.

11Watter dwase is die adviseurs van Soan nie! Hulle beste raad vir die koning van Egipte is dom en verkeerd. Sal hulle voor die farao spog omdat hulle so slim is, dat hulle van konings afstam?

12Wat het gebeur met jou slim adviseurs, Farao? As hulle so slim is, laat hulle jou vertel wat die Here, die Almagtige, aan Egipte gaan doen!

13Die wyse manne van Soan is dwaas, en dié van Memfis is verward. Die leiers van Egipte het die land geruïneer met hulle dom raad.

14Die Here het hulle dwaas gemaak sodat al hulle voorstelle verkeerd is. Hulle het die land van Egipte soos ’n siek dronklap laat steier.

15Niemand in Egipte, of hy ryk of arm, belangrik of onbelangrik is, kan hom help nie.

16Daardie dag sal die Egiptenaars so swak soos vroue wees. Hulle sal wegkruip van vrees wanneer die Here, die Almagtige, sy vuis teen hulle optel.

17Net om Israel se naam te noem, sal angs vir die Egiptenaars bring. Want die Here, die Almagtige, het sy planne klaar teen Egipte opgestel.

18Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting genoem word.

19Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens.

20Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red.

21Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom.

22Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.

23Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.

24Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.

25Die Here, die Almagtige, sal sê: “Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 19.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.