Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 16

:
Afrikaans - NLV
1 Vlugtelinge uit Moab stuur uit Sela in die woestyn lammers na Jerusalem om die koning van Juda se guns te wen.
2 Soos fladderende voëltjies wat uit die nes geskop is, so is die vroue van Moab by die Arnondriwwe.
3 “Help ons,” roep hulle. “Beskerm ons teen ons vyande. Beskerm ons vlugtelinge teen hulle aanvalle. Moet ons nie verraai nie.
4 Laat Moab se vlugtelinge tussen julle bly. Beskerm ons tot die vernietiger verbygegaan het.” Wanneer verdrukking en verwoesting verbygegaan het en die vyand verdwyn het,
5 sal Dawid se troon deur liefde gevestig word. Van daardie troon af sal ’n getroue koning regeer en hy sal doen wat regverdig en reg is.
6 Is dit Moab, daardie trotse land waarvan ons so baie gehoor het? Sy hoogmoedige gespog en arrogansie is alles weg!
7 Die hele land Moab huil. Ja, julle mense van Moab, huil oor die rosyntjiekoeke van Kir-Geres.
8 Huil oor die verlate plase van Gesbon en die wingerde van Sibma. Die wyn van hierdie wingerde het konings van nasies dronk laat word. Moab was soos ’n wingerd wat gestrek het tot by Jaser en gerank het tot in die woestyn. Die ranke het tot by die Dooie See gekom.
9 Maar nou het die vyand die wingerd vernietig. Daarom huil Ek vir Jaser en die wingerde van Sibma. My trane loop oor Gesbon en Elale, want julle vrugte-oes en graanoes is vernietig.
10 Weg is die vreugde. Verby is die gejuig oor die oes. Die vrolike sang en geroep in die wingerde word nie meer gehoor nie. In die parskuipe trap niemand wyn uit nie. Want Ek het ’n einde gebring aan al hulle oesvreugde.
11 Ek huil oor Moab. Ek is baie hartseer oor Kir-Geres.
12 Die mense van Moab sal op die heuwels hulle gode angstig aanroep. Maar dit sal nie help nie. Hulle sal roep na die gode in hulle heiligdomme, maar niemand red hulle nie.
13 Die Here het dit lankal al oor Moab gesê.
14 Maar nou voeg die Here by: “Binne drie jaar, wat so ondraaglik sal wees soos vir ’n dagloner wat hom afsloof, sal van Moab se glorie en baie mense min oorbly. Hulle wat oorbly, sal min en swak wees.”