Ezekiel 28NLV

1Die Here het vir my gesê:

2“Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige Here sê: “Ewe trots het jy verklaar: ‘Ek is god! Ek sit op die gode se troon in die hart van die see.’ Maar jy is net ’n mens, nie ’n god nie.

3Jy dink jy is slimmer as Daniël, en dat daar geen geheim is wat jy nie ken nie.

4Jy het groot rykdom versamel met jou wysheid en insig. Vol goud en silwer is jou skatkamers.

5Jou vaardigheid in handeldryf het jou baie ryk gemaak, en dis juis jou rykdom wat jou so hooghartig gemaak het.

6“Daarom, so sê die oppermagtige Here: Jy dink jy is slimmer as ’n god.

7Daarom laat Ek ’n vyandige, ’n wrede leër teen jou optrek. Hulle sal jou wysheid aanval en al jou aansien verwoes.

8Hulle sal jou in die graf laat beland. Jy sal gewelddadig doodgaan in die hart van die see.

9Sal jy by dié wat jou doodmaak, nog spog: ‘Ek is ’n god!’? Voor hulle sal jy nie ’n god wees nie, maar net ’n mens.

10Vreemdelinge sal jou doodmaak soos ’n heiden doodgemaak word. Ek, die oppermagtige Here, sê so!”

11Die Here het ook vir my gesê:

12“Mensekind, sing ’n begrafnislied oor die koning van Tirus. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Jy het wysheid en prag vervolmaak.

13Jy was in Eden, die tuin van God. Jou klere was versier met kosbare stene: robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, en smarag. Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is.

14Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap.

15“Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is.

16Jou uitgebreide handelsbetrekkinge het jou gewelddadig gemaak en jou laat sondig. Daarom het Ek jou verban van die godeberg af. Ek het jou verdryf, o gerub wat moes waghou! Ek het jou verwyder van tussen die glinsterende edelstene.

17“Jy het trots geword oor jou prag. Jou aansien het veroorsaak dat jy jou wysheid verloor het. Daarom het Ek jou op die aarde neergegooi, voor konings wat toekyk.

18Met jou sondes en oneerlike handelspraktyke het jy jou heiligdomme besoedel. Daarom brand Ek jou af tot net as sal oorbly, terwyl almal toekyk.

19Almal wat jou geken het, staan verstom oor wat met jou gebeur het. ’n Verskriklike einde het jou getref, en jy bestaan nie meer nie.”

20Die Here het vir my gesê:

21“Mensekind, kyk in die rigting van Sidon en profeteer daarteen.

22Sê vir die mense van Sidon die oppermagtige Here sê: “Ek is jou vyand, Sidon. In jou sal Ek my heerlikheid vertoon. Wanneer Ek jou straf en my heiligheid onthul, dan sal hulle weet: Ek is die Here.

23Ek stuur ’n plaag teen jou. Bloed sal op jou strate vloei. Die aanval kom uit elke rigting en jou mense sal in jou geslag word. Dan sal almal besef dat Ek die Here is.

24“Die mense van Israel sal nie meer deur hulle bure geminag word soos wilderose en dorings wat steek nie. Dan sal alle mense besef: Ek is die oppermagtige Here.”

25So sê die oppermagtige Here: “Die mense van Israel sal weer in hulle eie land bly, die land wat Ek aan Israel, my dienaar, gegee het, want Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar Ek hulle verstrooi het. Daardie dag wys Ek vir die nasies dat Ek heilig is tussen die mense van Israel.

26Hulle sal veilig in Israel bly en huise bou en wingerde aanlê. “Wanneer Ek hulle bure straf wat hulle met minagting behandel het, sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle God is.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Ezekiel 28.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.