1Die Here het vir my gesê:
2“Mensekind, sing ’n begrafnislied oor Tirus
3wat langs die see lê en met baie lande handel dryf. So sê die oppermagtige Here: “Tirus, jy het gedink jy is baie mooi.
4Jy het jou grense uitgebrei oor die see. Bouers het jou ’n mooi skip gemaak.
5Jy was soos ’n groot skip, gebou van sipresse uit Senir. ’n Seder van die Libanon is gebruik vir jou mas.
6Jou roeispane het hulle van eike uit Basan gemaak. Jou dek het hulle gebou van dennehout wat kom van die suidkus van Siprus, en dit met ivoor ingelê.
7Jou seile is gemaak van Egipte se fynste linne. Dit het soos ’n vlag bo jou gewapper. Jy was bedek met wolstof, pers en rooi uit die Elisa-eilande.
8“Jou roeiers kom uit Sidon en Arwad, jou matrose was ervare manne uit Tirus.
9Goeie vakmanne het jou lekplekke toegestop. Skepe het met hulle vrag van elke land gekom om met jou handel te dryf.
10“Manne uit Persië, Lud en Put het in jou weermag gedien. Hulle het hulle skilde en helms aan jou mure opgehang, en vir jou aansien gegee.
11Manne uit Arwad en Gelek het op jou mure wag gestaan. En manne uit Gammad het jou torings bewaak. Hulle skilde het aan jou mure gehang, en vir jou groot aansien gegee.
12“Tarsis was jou agent. Jy het jou ware verruil vir silwer, yster, tin en lood.
13Handelaars uit Griekeland, Tubal en Mesek het slawe en koperware gebring.
14Uit Bet-Togarma het ryperde, trekperde en muile gekom. Jy het al hierdie goed geruil vir wat jy vervaardig het.
15Handelaars het ook uit Dedan gekom. Talle eilande was jou agente. Hulle het jou betaal met ivoor en ebbehout.
16Aram het handelaars gestuur om met jou besigheid te doen. Met turkoois, pers wolstof, fyn linne, koraal en robyne het hulle vir jou ware betaal.
17Juda en Israel het jou ware gekoop, en betaal met koring uit Minnit, kos en heuning, olyfolie en balsemgom.
18Damaskus het baie produkte van jou gekoop, en met wyn uit Gelbon en wol uit Sagar betaal.
19Dan en Grieke uit Usal het jou ware gekoop. Hulle het met bewerkte yster, met kaneel en kalmoes betaal.
20Vir jou ware het Dedan met hulle saalkleedjies betaal.
21“Die Arabiere en prinse van Kedar het met lammers, skaapramme en bokramme vir jou ware betaal.
22Die handelaars van Skeba en Rama het met allerlei soorte speserye en met kosbare stene en goud vir jou ware betaal.
23Haran, Kanne, Eden, handelaars van Skeba, Assirië en Kilmad het ook met jou handel gedryf.
24Met mooi blou materiaal, en geborduurde materiaal, het hulle betaal, met veelkleurige matte, vasgebind met koorde.
25Die skepe van Tarsis het jou ware vervoer. Jou pakhuise was tot boordens toe vol!”
26“Kyk, jou roeiers het jou tot op die diepsee gebring. Hier sal die oostewind jou skip in stukke breek.
27Alles sal verlore gaan, jou rykdom en handelsware, jou matrose en seemanne, jou skeepsbouers, jou handelaars en soldate. Almal sal in die diepte verdwyn, die dag as jy vergaan.
28“Jou stede langs die see sal bewe as jou matrose roep om hulp.
29Die roeiers spring van die skip af, matrose en seemanne staan langs die kus.
30Hulle huil oor jou lot. Hulle treur hardop. Hulle gooi stof op hulle koppe en rol op die grond rond.
31Hulle skeer hulle koppe kaal, en in rou oor jou trek hulle begrafnisklere aan. Hulle huil bitterlik omdat hulle oor jou treur.
32Hierdie begrafnislied sing hulle terwyl hulle treur: “‘Was daar al ooit ’n stad soos Tirus, nou stil op die bodem van die see?
33Jou handelaars met hulle ware het die behoeftes van nasies bevredig. Konings oor die hele aarde het deur jou ryk geword.
34“‘Nou lê jy vernietig op die bodem van die oseaan. Jou handelaars en matrose het saam met jou gesink.
35Almal wat langs die kus bly, is verskrik oor jou. Hulle konings se hare rys van skrik, hulle gesigte vertrek van vrees.
36Die handelaars van die nasies skud hulle koppe as hulle jou sien. Jou einde was verskriklik, jy bestaan nie meer nie.’”