Ecclesiastes 7NLV

1’n Goeie naam is beter as goeie reukolie, die dag van sterwe beter as die geboortedag.

2Dis beter om na ’n huis te gaan waar gerou word. Die dood is elkeen se bestemming. En elkeen wat nog lewe, kan dit ter harte neem.

3Droefheid is beter as om te lag; ’n droewige gebeurtenis laat ’n mens dikwels goed nadink.

4Die gemoed van die wyse voel tuis waar daar gerou word. Die dwase se gemoed voel tuis waar daar plesier is.

5Dis beter om ag te slaan op die kritiek van iemand wat wys is, as om te luister na die lied van dwase mense.

6Soos die geknetter van doringtakke onder ’n pot, so klink die gelag van ’n dwaas. Dit alles is sinloos.

7Afpersing maak ’n verstandige ’n dwaas. ’n Omkoopgeskenk vernietig goeie oordeel.

8’n Taak wat voltooi is, is beter as die begin. Geduld is beter as hoogmoed.

9Moenie gou kwaad word nie; ergernis hoort by dwase.

10Moenie sê: “Waarom was die ou dae beter as die huidige?” nie. Dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vra nie.

11Wysheid is net so goed as ’n erfdeel; dit help hulle wat nog die son sien.

12Wysheid beskerm jou soos geld beskerming bied. Maar die voordeel van kennis is dat wysheid die lewe van hom wat dit besit, beskerm.

13Kyk hoe God te werk gaan: Wie kan iets reguit maak wat Hy krom gemaak het?

14Geniet die dag van voorspoed. Maar wanneer teëspoed kom, onthou, God gee die een sowel as die ander sodat die mens nie sal weet wat met hom sal gebeur nie.

15In my lewe van sinloosheid het ek alles gesien: Die regverdige gaan dood, al doen hy wat reg is; ’n bose mens geniet ’n lang lewe, al doen hy verkeerd.

16Moenie te regverdig lewe nie. Moenie aanspraak maak op meer wysheid as wat jy het nie. Hoekom wil jy jouself vernietig?

17Moet ook nie te goddeloos lewe nie. Moenie ’n dwaas wees nie! Hoekom moet jy voortydig doodgaan?

18Dit is goed om een vas te hou en die ander nie te los nie. Hy wat vir God respekteer, ontkom aan albei.

19Wysheid versterk ’n wyse met meer mag as wat tien belangrike leiers in ’n stad het.

20Want daar is niemand op aarde wat regverdig is nie, niemand wat net goeddoen en nooit sondig nie.

21Moenie jou steur aan alles wat mense sê nie. Dalk hoor jy hoe jou werknemer jou verwens!

22Jy onthou immers hoe dikwels jy self ander verwens het.

23Ek het dit alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou regtig wys wees, maar kon dit nie regkry nie.

24Wat wysheid ook al is, dit lê buite bereik en baie diep. Wie kan dit vind?

25Ek het alles moontlik probeer om te wete te kom, na te vors en te ondersoek wat wysheid en insig is, en om die dwaasheid van goddeloosheid te verstaan, en dwaasheid as malligheid te ken.

26Wat ek wel gevind het, is dat ’n vrou wat verlei, bitterder is as die dood. Haar hart is ’n gevaarlike vangnet. Haar hande is boeie. Wie voor God goed is, vermy haar, maar die sondaar word deur haar gevang.

27“Dis wat ek geleer het,” sê die Prediker, “toe ek een en een bymekaargetel het om die regte insig te kry.

28Wat ek nog altyd gesoek het, het ek nie gevind nie. Ek het wel een man uit duisend gevind. Maar só ’n vrou het ek nie onder al dié gevind nie.

29Die één ding wat ek wel gevind het, is dit: God het die mense goed en opreg gemaak, maar hulle het allerlei slimmighede gesoek.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Ecclesiastes 7.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.