Amos 9
1 Ek het die Here langs die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die bopunte van die pilare so hard dat die fondamente skud. Laat die dak van die gebou neertuimel op die mense onder. Die mense wat bly leef, sal Ek in ’n geveg laat sterf. Nie een sal kan ontvlug nie!
2 Selfs al sou hulle grawe tot diep in die doderyk, Ek sal hulle daar uithaal. Al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar af bring.
3 Al kruip hulle weg op die kruin van Karmelberg, Ek sal hulle daar gaan haal en laat afkom. Selfs al kruip hulle weg op die bodem van die see, Ek sal die seeslang stuur om hulle te byt.
4 Al voer hulle vyande hulle weg as gevangenes, Ek sal hulle met ’n swaard laat sterf. My ingesteldheid teenoor hulle is sleg, nie goed nie.”
5 Die Here is die Here, die Almagtige. As Hy aan die aarde raak, smelt dit weg. Dit laat al die bewoners op die aarde treur. Soos die Nyl in Egipte in vloedtyd styg alles op en sak weer terug.
6 Die Here bou sy bovertrekke in die hemel en lê die fondament van die hemelkoepel op die aarde. Hy roep die waters uit die see en giet die reën oor die aarde. Sy Naam is: “Die Here!”
7 Is julle wat Israeliete is nie maar net soos die Kussiete nie? vra die Here. Het Ek nie vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?
8 “Ek, die oppermagtige Here, hou die sondige koninkryk dop.” Hy sê: “Ek sal hulle verwyder van hulle grond. Tog sal Ek nie die nageslag van Jakob heeltemal uitwis nie.
9 Kyk, Ek het beveel dat Israel rondgeskud moet word tussen al die nasies soos koring in ’n sif. Maar nie een korrel sal op die grond val nie.
10 Al die sondaars van my volk sal omkom deur die swaard, hulle wat sê: ‘Rampe sal ons nie inhaal nie. Niks slegs sal met ons gebeur nie.’”
11 “As dié dag aanbreek, sal Ek die vervalle huis van Dawid weer herstel. Ek sal die stukkende mure weer opbou, al lyk dit nou soos ’n vervalle huis. Ek sal dit herstel sodat dit lyk soos voorheen.
12 Israel sal heers oor wat oorgebly het van Edom. Hulle sal ook heers oor al die nasies wat my Naam dra.” Dit, sê die Here, sal Hy doen!
13 Verder sê Hy: “’n Dag sal kom wanneer die graan en die druiwe vinniger sal groei as wat hulle kan oes. Die sap sal afdrup van die wingerde teen die berghange, dit sal teen die skuinstes afvloei.
14 Ek sal my volk Israel uit ballingskap laat terugkom. Hulle sal die verwoeste dorpe weer opbou en bewoon. Hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink. Hulle sal boorde aanplant en die vrugte daarvan eet.”
15 Die Here hulle God sê: “Ek sal hulle in hulle land hervestig. Ek sal nooit weer toelaat dat iemand hulle wegneem uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.”