Amos 9NLV

1Ek het die Here langs die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die bopunte van die pilare so hard dat die fondamente skud. Laat die dak van die gebou neertuimel op die mense onder. Die mense wat bly leef, sal Ek in ’n geveg laat sterf. Nie een sal kan ontvlug nie!

2Selfs al sou hulle grawe tot diep in die doderyk, Ek sal hulle daar uithaal. Al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar af bring.

3Al kruip hulle weg op die kruin van Karmelberg, Ek sal hulle daar gaan haal en laat afkom. Selfs al kruip hulle weg op die bodem van die see, Ek sal die seeslang stuur om hulle te byt.

4Al voer hulle vyande hulle weg as gevangenes, Ek sal hulle met ’n swaard laat sterf. My ingesteldheid teenoor hulle is sleg, nie goed nie.”

5Die Here is die Here, die Almagtige. As Hy aan die aarde raak, smelt dit weg. Dit laat al die bewoners op die aarde treur. Soos die Nyl in Egipte in vloedtyd styg alles op en sak weer terug.

6Die Here bou sy bovertrekke in die hemel en lê die fondament van die hemelkoepel op die aarde. Hy roep die waters uit die see en giet die reën oor die aarde. Sy Naam is: “Die Here!”

7Is julle wat Israeliete is nie maar net soos die Kussiete nie? vra die Here. Het Ek nie vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?

8“Ek, die oppermagtige Here, hou die sondige koninkryk dop.” Hy sê: “Ek sal hulle verwyder van hulle grond. Tog sal Ek nie die nageslag van Jakob heeltemal uitwis nie.

9Kyk, Ek het beveel dat Israel rondgeskud moet word tussen al die nasies soos koring in ’n sif. Maar nie een korrel sal op die grond val nie.

10Al die sondaars van my volk sal omkom deur die swaard, hulle wat sê: ‘Rampe sal ons nie inhaal nie. Niks slegs sal met ons gebeur nie.’”

11“As dié dag aanbreek, sal Ek die vervalle huis van Dawid weer herstel. Ek sal die stukkende mure weer opbou, al lyk dit nou soos ’n vervalle huis. Ek sal dit herstel sodat dit lyk soos voorheen.

12Israel sal heers oor wat oorgebly het van Edom. Hulle sal ook heers oor al die nasies wat my Naam dra.” Dit, sê die Here, sal Hy doen!

13Verder sê Hy: “’n Dag sal kom wanneer die graan en die druiwe vinniger sal groei as wat hulle kan oes. Die sap sal afdrup van die wingerde teen die berghange, dit sal teen die skuinstes afvloei.

14Ek sal my volk Israel uit ballingskap laat terugkom. Hulle sal die verwoeste dorpe weer opbou en bewoon. Hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink. Hulle sal boorde aanplant en die vrugte daarvan eet.”

15Die Here hulle God sê: “Ek sal hulle in hulle land hervestig. Ek sal nooit weer toelaat dat iemand hulle wegneem uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Amos 9.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.