Psalms 86
1 Here, luister tog as ek bid. Help my, want ek is in ’n krisis. Beskerm my, want ek is in die nood. Ek is desperaat.
2 My God, U help mos u kind wat U dien en op U vertrou. Red my, want ek het U as my God gekies.
3 Wys tog dat U vir my omgee, Here. Ek bid heeldag tot U sonder om op te hou.
4 Maak my weer bly, want my hele lewe draai om U, Here. Ek dien U. En ek wens heeldag dat U by my is.
5 Here, U is goed vir al u kinders wat tot U bid. U vergewe maklik. U het u kinders baie lief. As hulle na U roep om hulle te help, antwoord U gou.
6 Here, help my as ek bid. Luister as ek om hulp smeek.
7 Ek weet as ek die dag in ’n groot krisis is, kan ek maar net tot U bid, want U antwoord my.
8 Here, U is die enigste ware God. Niemand kan die dinge doen wat U doen nie.
9 Selfs mense wat U nie dien nie, is u handewerk. Ook hulle sal nog kom om U te aanbid, Here. Hulle sal u Naam kom grootmaak en U eer.
10 Ja, U is baie groot. U laat wonders gebeur. U is die enigste ware God.
11 Help my om te doen wat U wil hê, Here. Ek sal doen wat U van my vra. Maak my gehoorsaam sodat ek u Naam kan eer en U dien.
12 Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys. U Naam wil ek altyd grootmaak.
13 Ja, U het my baie lief. U het my uit my grootste krisis gered. U het my van die dood af weggehou.
14 Slegte mense het my lewe bedreig. ’n Klomp wrede skurke wou my doodmaak. Hulle maak asof U nie bestaan nie.
15 Here, U het ’n sagte hart. U gee maklik goeie dinge aan ons. En U het baie geduld met ons. U is vol goedheid. U het almal baie lief wat aan U behoort. En U is getrou aan hulle.
16 Help my, Here! Maak u hart vir my oop. Gee my krag. Red my. Ek dien U mos. Ek is deel van ’n familie wat U dien.
17 Mense moet aan my lewe kan sien dat U regtig vir u kinders omgee. As mense wat my haat, sien hoe U my help, sal hulle baie skaam word. Hulle moet sien hoe U al my trane afdroog en my help.