Psalms 84
1 ***
2 Hoe wonderlik mooi is die plek waar U woon, o Here, groot Bevelvoerder oor alles en almal.
3 Ek verlang so om net in u woonplek te staan. Ek wil baie bly wees omdat U die God is wat leef.
4 Die voëltjies maak hulle nes naby u altaar, o Here, God, groot Bevelvoerder. U is my God, en U heers oor die heelal.
5 Gelukkig is die mense wat tuis voel in u huis en nie ophou om die mooiste dinge oor U te sê nie.
6 Gelukkig is mense wat hulle krag by U soek en wat heeltyd droom oor hoe hulle u huis gaan besoek.
7 As hulle deur ’n droë vallei gaan, breek die aarde in fonteine oop en sak die vroeë reën uit sodat daar oral poele water staan.
8 Aan hulle is daar geen keer nie; hulle pad sal by God in Jerusalem eindig. U gee hulle die krag daarvoor.
9 Luister asseblief wat ek vra, o Here, U wat alles kan doen. U is die groot Bevelvoerder, die God van Jakob. Hoor my gebed.
10 Pas ons aardse heerser asseblief mooi op, o God. Wees goed vir die een wat U spesiaal as koning gekies het. Hy moet ons beskerm.
11 Dit is vir my lekkerder om een dag in u huis te wees as duisend dae sonder U in die poele van plesier. Ek sal liewer net ’n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie.
12 Die Here God wys vir ons wat ons moet doen en beskerm ons in gevaar. Hy gee vir ons dinge wat ons nie verdien nie omdat ons reg lewe.
13 As ons op U vertrou, sal U vir ons gee wat ons nodig het. Here, U is die groot Bevelvoerder wat alles kan doen. Die mens wat op U vertrou, is die gelukkigste van almal.