Psalms 81
1 ***
2 Sing mooi liedere om God groot te maak, want Hy gee ons krag. Wees bly terwyl julle die God van Jakob grootmaak.
3 Sing en speel op die musiekinstrumente. Maak lieflike klanke met julle musiekinstrumente.
4 Maak mooi musiek op die spesiale feesdae, op die nuwemaan en volmaan.
5 God hou baie daarvan en wil dit so hê. Hy het so bepaal.
6 Hy het gesê sy kinders moet dit doen toe Hy hulle in Egipte kom help het. In Egipte het ek ’n onbekende taal gehoor:
7 “Ek haal die swaar vrag van julle skouers af. Julle kan maar ophou met die harde werk.
8 Toe julle hulp nodig gehad het, het julle My gevra en Ek het gehelp. Uit die donderweer het julle My gehoor, by Meriba het Ek gekyk of julle regtig op My vertrou.
9 My kinders, luister asseblief na My. Hoor wat Ek sê. Ek gee julle ’n opdrag:
10 ‘Moet nooit ander gode aanbid nie. Moenie voor vreemde gode neerbuig nie.
11 Ek is mos julle Here, julle God! Dit is Ek wat julle daar in Egipte gehelp het. Ek sal goed vir julle sorg. Wat julle nodig het, gee Ek vir julle.’
12 “Maar nee, my kinders wou nie luister nie. Hulle het mos beter geweet en die rug vir My gedraai.
13 Ek het hulle toe gelos sodat hulle hulle eie pad kon loop. Ek het hulle ’n kans gegee om hulle sin te kry.
14 Ag, as my kinders maar net na My wou luister en doen wat Ek vra!
15 In ’n oogwink sou Ek hulle vyande straf. Na een veeg van my hand sou daar niks van hierdie vyande oorbly nie.”
16 Mense wat nie van God hou nie, maar maak of hulle Hom liefhet, gaan baie spyt wees. Hulle sal in vernedering voor God moet kom kruip. God sal hulle vir altyd laat betaal.
17 Met God se kinders sal dit anders wees. Vir julle sal Hy die heel beste gee, die lekkerste kos wat jy jou kan voorstel.