Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 80

:
Afrikaans - DB
1 ***
2 Here, U is soos ’n herder vir u kinders. U sorg vir al u kinders soos ’n herder sy skape oppas. U lei u kinders. Oor alles in die wêreld heers U. Luister tog nou na ons!
3 Gryp nou in. Help ons uit ons probleme uit. Wys vir u kinders hoe sterk U regtig is. Kom help ons!
4 Laat dit weer met ons goed gaan. Red ons, God!
5 Here, groot God, U is die groot Bevelvoerder oor alles en almal. Hoe lank gaan U nog kwaad bly? U doen niks as u kinders by U hulp vra nie.
6 U het ons baie swaar laat kry. Ons het ons uitgehuil oor die swaarkry wat U oor ons laat kom het.
7 Ons is soos ’n bal wat rondgeskop word deur almal rondom ons. Mense baklei met ons. Daardie spul wat niks van ons hou nie, lag ons uit.
8 Almagtige God, U is die groot Bevelvoerder. Sit ons tog weer op die wenpad. Help ons! Laat dit weer met ons goed gaan.
9 Die Israeliete was soos ’n wingerdplantjie. U het hulle in Egipte uit die grond getrek. U het al die vreemdes weggejaag van die plek af waar U hulle wou kom oorplant.
10 U het die grond uitgekies en goed voorberei. Die plantjie het stewig begin groei. Gou-gou was die hele land toegerank.
11 So dig het dit gegroei dat dit skaduwees oor die hoë berge gegooi het. Dit was selfs groter as die reusebome wat daar gestaan het.
12 U nuwe plant het van die Middellandse See tot by die Eufraatrivier gestrek. Die Here se kinders het die Beloofde Land volgemaak.
13 Maar hoekom het U die veiligheidsmuur rondom u volk laat afbreek? Almal wat daar verbyloop, het nou die druiwe afgesteel.
14 Die diewe en skurke het alles kom opvreet. Wilde diere het alles wat oorgebly het, kaalgepluk.
15 God, U is die groot Bevelvoerder. Kom help ons! Sorg uit u hemelse blyplek vir ons. Ons is u wingerdplant. Kry ons weer jammer, en sorg weer vir ons!
16 Beskerm die plant wat U met soveel sorg vertroetel het. U het dit met spesiale aandag grootgemaak.
17 U wingerdplant is aan die brand gesteek. Dis uitgekap. Hulle het dit soos onkruid uitgeroei. Laat hulle nou te gronde gaan.
18 Sorg nou asseblief weer vir die mense wat U gekies het om aan U te behoort. U het hulle almal as u eie kinders grootgemaak.
19 As U dit doen, sal ons U dien. Ons sal nie weer van u wegdraai nie. Help ons om weer voluit te lewe! Dan sal ons U prys en dien.
20 Here, U is die God wat die groot Bevelvoerder is. Sit ons weer op die wenpad. Help ons! Kom tog om ons te red!