Psalms 77
1 ***
2 Ek vra vir God om my te help. Ek pleit by God dat Hy in my krisis moet ingryp. Luister tog na my!
3 In my nood soek ek hulp by die Here. Ek word nie moeg om te bid nie. Snags maak ek nie ’n oog toe nie. Maar ek vind geen troos nie.
4 Wanneer ek aan God dink, roep ek na Hom. Ek wil hê Hy moet hoor hoe swaar ek kry. Maar dit voel vir my of God Hom nie meer aan my steur nie. Ek is moedeloos.
5 U hou my wakker. Daar is geen rus vir my nie. Ek is baie omgekrap. Ek het nie meer woorde oor om te sê hoe omgekrap ek is nie. Daarom praat ek nie baie nie.
6 My gedagtes gaan baie ver terug. Ek dink terug aan dinge wat jare gelede gebeur het.
7 Ek lê in die nag wakker en dink hoe ek musiek gemaak het. Ek dink ver terug en vra my af:
8 “Gaan die Here my altyd van Hom af wegstoot? Sal Hy ooit weer vir my goed wees?
9 Gaan Hy sy troue liefde altyd van my af wegvat? Het sy belofte om sy kinders in hulle swaarkry te help, nou eens en vir altyd tot ’n einde gekom?
10 Het God dan vergeet om weer goed aan ons te doen? Is hy so kwaad dat Hy Hom nooit weer oor ons gaan ontferm en ons jammer kry nie?
11 En ek dink: My grootste bekommernis in die lewe is dat die Allerhoogste nie weer soos voorheen goed aan ons gaan doen nie!
12 Toe het ek ver teruggedink, na dit wat God lank terug gedoen het. Vroeër het die Here buitengewone, wonderlike dinge gedoen.
13 My gedagtes het stilgestaan by al u groot werke. Ek kon nie ophou nadink oor alles wat die Here gedoen het nie.
14 God, U is heeltemal anders as ons. Daar is niemand wat sterker is as U nie! Wie is so groot soos U?
15 U het wonderlike dinge in die verlede gedoen. Vir vreemde volke het U gewys hoe sterk U is.
16 U het die Israeliete met u groot krag uit hulle moeilikheid gered.
17 Almal wat u kinders in die moeilikheid probeer bring het, bewe, want hulle het u krag leer ken, Here. God, hulle weet dat U die sterkste is.
18 Soos swaar reën en weerligte wat helder blits, het U u groot krag gewys. Almal was baie bang. Die hele aarde het gebewe.
19 U het die donderweer laat slaan. Dit was soos ’n leeu wat aanhou brul. Die weerligstrale het die wêreld helder verlig. Alles het geskud.
20 U krag het groot respek afgedwing. Deur al die gevaar het U u kinders veilig beskerm. Deur die grootste krisis het U hulle gelei. U het dit op u eie manier gedoen. En niemand kon uitvind hoe U dit doen nie.
21 Here, U het u kinders gelei soos ’n herder sy skape lei. U het dit gedoen deur hulle leiers wat U gedien het. Moses en Aäron het vir hulle die regte pad gewys.