Psalms 74
1 God, hoekom het U u rug vir ons gedraai? Gaan U ons vir altyd wegstoot? Hoekom is U so kwaad vir u kinders? U gee nie meer soos voorheen vir ons om nie. Ons behoort dan aan U.
2 Help ons almal wat U dien. U het ons baie lief. U het ons lank terug gekies om u spesiale kinders te wees. En U bly tussen ons.
3 Kom help ons waar ons hier op die rommelhoop sit, Here! Ons vyand het alles wat ons het, verwoes, ook u woonplek.
4 Boewe het al ons kosbare goed stukkend geslaan. Die plek waar ons U aanbid het, is afgebreek. U vyande het die plek kom vertrap waar U aanbid word. Alles behoort nou aan hulle. Hulle speel baas.
5 Dit lyk of ’n storm ons getref het. Vroeër was alles baie mooi hier waar ons bly. Nou lyk dit of ’n hele weermag daaroor geloop het.
6 Soldate het alles stukkend geslaan en geplunder.
7 Hulle het die gebou afgebrand waar ons U aanbid. Vroeër, as ons hier gekom het, het dit ons altyd aan U laat dink. Hulle het u woonplek ontwy.
8 Maar daardie slegte mense het gesê: “Wag maar, ons sal hulle in die grond in trap.” Al die plekke dwarsdeur die land waar ons U aanbid, het hulle afgebrand.
9 Nou is hier niks meer oor wat ons aan U herinner nie. Hier is selfs nie meer iemand wat vir ons vertel wat u wil is nie. En niemand kan vir ons sê hoe lank dit so gaan aanhou nie.
10 God, sê asseblief vir ons hoe lank hulle nog met ons gaan baklei. Hoe lank gaan hulle aanhou om u Naam te verag?
11 Hoekom doen U niks hieraan nie? Straf hulle, asseblief! Vernietig hulle.
12 Die Here is nog altyd my God. Hy is die Een wat oor almal regeer. Daarom kan Hy mense help waar hulle ook al is.
13 Here, U het al die oseane gemaak. U hou dit alles in u hand. En U maak die seemonsters dood.
14 Niks in die see hou vir U enige bedreiging in nie.
15 Oor die hele wêreld laat U fonteine en waterstroompies opborrel. U laat groot en sterk riviere ophou vloei as U wil.
16 U beheer lig en donker. Al die groot ligte in die hemel, die sterre en die son, het U gemaak. U hou dit in u hande. Daar is geen einde aan u krag nie.
17 Nie eens die seisoene kan verander as U dit nie toelaat nie. U het dit ingestel.
18 Here, u vyande spot met U. Sien dit tog raak. Die spul is dom. Hulle sleep u groot Naam deur die modder.
19 Moet ons tog nie in hulle hande laat val nie. Moenie u rug vir ons draai nie. Ons vyande is soos ’n trop wilde diere wat alles verskeur. Onthou tog dat ons in groot moeilikheid is.
20 Onthou, U het lank gelede ’n ooreenkoms met u volk gemaak: U het gesê U sal ons beskerm. Ons is nou diep in die moeilikheid. Oral in die land breek geweld uit.
21 Dit gaan sleg met u kinders; ons word verdruk. Moet ons nie nou teleurstel nie. Red ons! Almal wat hulp nodig het, sal U loof vir u goedheid!
22 Staan op, God! Doen tog wat reg is. Kyk hoe daardie slegte mense u Naam deur die modder sleep. Hulle hou heeltyd daarmee aan.
23 Moenie dat hulle daarmee loskom nie! Onthou hoe u vyande teen U tekere gegaan het. Hulle hou nie op daarmee nie.