Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 68

:
Afrikaans - DB
1 ***
2 Wanneer God ingryp, spat sy vyande in alle rigtings! Dié wat Hom haat, vlug dan so al wat hulle kan!
3 U blaas hulle uit die pad uit soos ’n bol rook. U laat hulle wegsmelt soos ’n kers in die vuur. So vergaan goddelose mense as hulle U sien.
4 Maar sy kinders sal bly wees. Juigkrete sal op hulle lippe wees as hulle voor God staan, hulle sal vrolik en bly wees.
5 Kom sing ’n nuwe lied om God groot te maak, eer Hom met julle lied. Sing ’n pad van lof en vreugde oop voor Hom wat bo die wolke uittroon, jubel opgewonde oor Hom. Sy Naam is die Here, niemand anders nie!
6 God is ’n Vader vir swak mense, vir kinders wat nie ouers het nie. Hy staan aan die kant van hulpelose weduwees. Hy beskerm hulle. Daar uit sy hemelse woning wat eenkant is, steek God sy hand uit na swak mense.
7 God tel eensames op en maak hulle deel van ’n familie, Hy sluit tronkdeure vir gevangenes oop, maar laat al sy vyande diep in ’n woestyn bly.
8 God, daardie dag toe U u volk in Egipte gaan haal het, toe U ’n pad deur die woestyn oopgestap het,
9 het die aarde gebewe van vrees, die hemel het strome water voor U uitgegiet. Dit alles het daar by Sinai gebeur voor U, o God; daar het alles en almal voor Israel se God gebewe!
10 God, U het die hemel geskeur, stortreën het oor die aarde uitgesak, ’n droë land het skielik weer begin leef.
11 U het vir u eie mense ’n blyplek gegee. God, U is so ontsettend goed; daarom gee U vir swak mense net die allerbeste, u hulpelose volk kry selfs ’n eie land.
12 “Goeie nuus! Goeie nuus!” roep God uit. Magtige leërs wat met God se volk baklei, het die hasepad gekies,
13 [13-14] konings het in alle rigtings gehardloop. Hulle het gevlug. Terwyl Israel se soldate nog gerus het na hulle groot oorwinning, het die vroue by die huis al die buit begin verdeel, kosbare skatte is onder mekaar uitgedeel. God het die onmoontlike reggekry, ja,
14 ***
15 so verrassend soos sneeu op die donkerste berg in Israel, so verrassend, so groot is God se oorwinning.
16 Julle, reuseberge wat bo die aarde uittroon,
17 waarom kyk julle so jaloers na die berg daar waar God se woonplek staan? Daar bly Hy vir altyd. Julle jaloesie help net mooi niks, want God is by sy volk.
18 Duisende hemelse oorlogswaens omring God se woonplek. Toe U na die gebeure by Sinai u woonplek binnegegaan het, was u hemelse leërmag saam met U.
19 U het krygsgevangenes saamgevat om vir almal te wys U het gewen. Almal het geskenke na U toe aangedra, selfs u vyande het met geskenke laag voor U kom buig toe U in u woonplek ingestap het, Here God!
20 Loof die Here! Hy dra ons elke dag! God help ons.
21 God red ons as ons in die moeilikheid is. Die Here ons God pas ons op as ons lewe in gevaar is.
22 Maar God trap al sy vyande onder sy voete plat. Mense wat aanhou sonde doen, vee Hy van die aardbol af.
23 Dit help nie dat God se vyande probeer wegkruip nie; Hy gaan haal hulle uit al hulle wegkruipplekke uit.
24 God se kinders sal sien hoe hulle vernietig word, hulle bloed sal deur die honde opgelek word.
25 God, mense sien hoe U triomfantlik na u woonplek toe kom. My God, U is die sterkste, U het gewen. My Koning, U is op pad na u heilige woonplek!
26 Mense stap voor U uit en sing lofliedere. Musiekinstrumente bespeel vrolik u lof. Jongmeisies slaan vol vreugde op tamboeryne.
27 Groot kore loof God, al die mense van die Here maak sy Naam groot.
28 Al die leiers van sy volk is daar! Benjamin is die jongste. Hy is hulle leier. Daar is Juda se vorste, en dié van Sebulon en Naftali.
29 God, wys asseblief weer hoe sterk U is. Laat ons weer u groot krag sien waarmee U ons gered het.
30 Wys dit hier uit u woonplek waar magtige mense laag in die stof voor U buig en vir U geskenke bring!
31 Vat daardie spul Egiptenaars vas, hulle dink mos hulle is die sterkste in die hele wêreld, soos ’n seekoei tussen die riete. Hulle trap op ander volke om geld te maak. Hulle maak oorlog met almal en jaag alle volke uitmekaar.
32 Laat Egipte voor U kom buig, laat hulle laag voor U buig met arms vol geskenke, laat die mense van Etiopië U kom smeek om hulle te help!
33 Sing lofliedere, al die volke op aarde! Sing ’n lied om God se Naam groot te maak, sing om die Here te eer!
34 Eer Hom wat bo-oor die hemel troon, die hemel wat van die begin af daar is. God se magtige stem dreun deur die ganse wêreld.
35 Buig voor Hom, erken dat Hy die sterkste is! Hy heers oor Israel. Hy heers oor die aarde.
36 Almal bewe as Hy uit sy woonplek kom! Hy is Israel se God, Hy maak sy kinders sterk. Hy sorg vir elkeen wat voor Hom buig. God moet geloof word, nou en vir altyd!